Tyson Fury plant uitklophou teen Wilder

Deontay Wilder (regs) en WBC-swaargewigkampioen Tyson Fury van Brittanje by die T-Mobile-arena in Las Vegas, Nevada (9 Oktober 2021) (Foto: Robyn Beck/AFP)

Dit was die derde keer wat die Brit Tyson Fury, die Wêreldboksraad se swaargewigkampioen, teen Amerikaner Deontay Wilder te staan kom. En soos in die tweede geveg in Las Vegas het Wilder nie ʼn antwoord gehad vir Fury se regterhand nie.

Wilder se knieë was reeds in die derde ronde jellie toe Fury hom planke toe gestuur het. Maar jy bereik nie die hoogtes van beroepsport as jy nie kan terugveg nie en dis presies wat Wilder gedoen het. In die vierde ronde het hy ʼn paar kophoue uitgedeel en Fury was twee keer platgeslaan. Hy het dit ook afgeskud en dit het gelyk of die geveg sy volle twaalf rondes sou duur.

Fury het Wilder met reëlmaat in die moeilikheid gehad met sy regter. Wilder se oë was dik geslaan en bloed het by sy mond uitgeloop. In die tiende ronde was Wilder weer op die vloer. Hy het tam gelyk, maar weer vasgebyt om Fury met sarsies houe onvas op sy voete te laat lyk.

Fury het sy volle 125,6 kg gebruik om Wilder te boelie. En in die elfde ronde het hy Wilder vir die laaste keer met ʼn kort regterhou teen die kant van die kop krytvloer toe gestuur. Die skeidsregter het die geveg net daar gestop want dit het in elk geval nie gelyk of Wilder betyds sou kon opstaan nie.

Fury het Wilder 20 maande gelede in die sewende ronde uitgeslaan. Hulle eerste geveg in Los Angeles in 2018 het in ʼn omstrede gelykop uitslag geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Fury was verwoestend. Arme Wilder het hoe later hoe meer verwilderd gelyk. Moes daai vroeer dodelike regter van Fury op die linker oor gewees het. Lyk nie of Fury hom veel steur aan blm nie.

Martie Smartie ·

Was ‘n goeie fight. Maar Wilder het Fury baie laat les opsê. Daai laaste hou v Fury was net presies reg op die kakebeen langs Wilder se neus, en toe was dit koebaai meraai. Fury lyk nou nie juis soos Wilder gespierd nie en hy slaan oor die algemeen onakkuraat en wild, maar as hy reg tref slaan hy soos die skop v ‘n muil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.