UFC sorg vir rateltaai gevegte ten spyte van Covid-19-geval

Justin Gaethje en Tony Ferguson (Foto: TalkSport)

Die Ultimate Fighting Championship (UFC) sal maar altyd vir ’n tikkie omstredenheid sorg. Maak nie saak of die bekgevegte tussen die hardebaard-atlete vooraf ’n bietjie handuit ruk en of hulle sommer die vensters van een van die spanbusse uitslaan nie.

Met UFC249 wou die grootbaas, Dana White, ’n privaat eiland aankoop om die gevegte in die Covid-19-era te huisves. Hoewel dit amper soos die draaiboek van ’n Mortal Kombat-fliek klink, het die plan deur die mat geval en ná al die drama het die gebeurtenis uiteindelik ’n tuiste in Jacksonville (Florida) gevind.

Daar was egter streng gesondheidsmaatreëls in plek gestel: geen toeskouers is toegelaat nie en een van die vegters, Ronaldo Souza, het vooraf saam met twee van sy spanlede positief vir Covid-19 getoets.

Die wêreldwye pandemie het ook ’n invloed op die hoofgeveg van die aand gehad.

Die Russiese liggewigkampioen, Khabib Nurmagomedov, was weens die verbod op internasionale vlugte in sy tuisland gestrand en Justin Gaethje het sy plek in die hoofgeveg teen Tony Ferguson ingeneem.

Maar diegene wat gedink het dat ’n Ferguson/Gaethje-tweestryd vir ’n vervelige affêre sou sorg, was sommer vroeg in die geveg al verkeerd bewys. UFC249 is die eerste groot sportgebeurtenis in die VSA wat te midde van die Covid-19-pandemie kon voortgaan.

En om ’n lang storie kort te maak: Ferguson en Gaethje het nie hul ondersteuners teleurgestel nie. Want hoewel Gaethje net vyf weke gehad het om vir die kragmeting voor te berei, het hy soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en vir Ferguson sommer gou op die agtervoet gehad.

Die 31-jarige Amerikaner het sy 36-jarige teenstander met ’n paar klipharde vuishoue laat steier. Om dié houe in perspektief te plaas: As dié geveg buite ’n kuierplek plaasgevind het, sou die meeste van Ferguson se ondersteuners eerder in hul bakkies geklim en die hasepad gekies het.

Maar soos wat een ondersteuner op Twitter geskryf het – Ferguson se kakebeen is van graniet gemaak en dit verdien om in die heldesaal van die sport opgeneem te word.

Hoewel sy snyedokter sy hande vol gehad het, het die rateltaai Ferguson die houe op die ken gevat en tussendeur die bloedplasse voortbaklei. Na bewering kan hy vir ses ure aaneen sonder enige waterbreek oefen.

“Hierdie is ’n ongelooflike geveg, as daar toeskouers was sou hulle nou dié twee staande toegejuig het. Tony Ferguson is seker die taaiste persoon ter wêreld!” het ’n opgewonde Joe Rogan vanuit die kommentatorshokkie gesê.

Tog kan die hardste kakebeen ook net soveel houe vat en Herb Dean (gevegbeampte) het die kragmeting in die vyfde ronde gestop. Gaethje se arm is seëvierend in die lug gehou.

Die buiteperd was immers die heeltyd in beheer van die geveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.