UFC-vegter klim kaalvuis in onder BLM-beweging

Colby Covington (links) en Tryon Woodley. Foto: Twitter.

Die Amerikaanse hokvegter Colby Covington het koerantopskrifte regoor die wêreld gehaal nadat hy Tyron Woodley in die vyfde ronde van die UFC Fight Night in Las Vegas geklop het.

In die wêreld van Ultimate Fighting Championship-atlete kan die bekgevegte, selfs wanneer die aksie in die hok reeds verby is, nog lank voortduur.

En die 32-jarige Covington het behoorlik sy mond oor Woodley en die Black Lives Matter-beweging uitgespoel.

“Black Lives Matter is ’n klugspul. Daar is slegte mense in hul geledere en hulle moenie die polisie aanval nie,” het Covington gesê.

Woodley, ’n BLM-ondersteuner en voormalige UFC-kampioen, het met elke mediakonferensie vóór die geveg ’n hemp met BLM-slagspreuke daarop gedra.

“Jy weet, as jy die wet oortree en die polisie met wapens dreig, verdien jy wat jou toekom. Die wet is daar om ons almal te beskerm en as jy nie die wet toepas nie, kan dit maar net sowel die Wilde Weste wees,” het Covington voortgegaan.

Hy was nog besig om die media se vrae te beantwoord toe sy selfoon lui. Dit was die Amerikaanse president Donald Trump om hom met sy oorwinning geluk te wens.

Volgens Trump het hy van ’n verkiesingsbyeenkoms in Noord-Carolina teruggejaag om betyds vir die Covington/Woodley-geveg te wees.

Hy het Woodley as ’n kranige en talentvolle atleet beskryf, terwyl hy terselfdertyd ook vir Covington geprys het.

“Ek is ’n groot ondersteuner en ek is baie trots op jou. Jy is ’n taai kalant en het emmersvol veggees,” het die Amerikaanse president hoorbaar vir Covington gesê.

Die hokvegter is ’n uitgesproke Trump-ondersteuner en is van mening dat die 74-jarige die komende verkiesingstryd maklik sal wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Laaik die ou baie. Hy is so reg en n oopkop. Hy is ver beter as AB en Francois en die klomp wat kniee wou buig.

MakersMark ·

Geluk Colby. Uiteindelik ‘n sportsman met ruggraat wat nie buig voor die blm afgod nie, letterlik en figuurlik.

Annelize ·

Ek kon dit myself nie beter gestel het nie. BLM is net ‘n front vir kriminele om agter weg te kruip.

Jakes ·

Colby is n man so na my hart. Die BLM is TJOL op sy beste. Dan is daar nogal hordes in SA wat dit slagspreuk uitbuit om hul vrot egos te streel.

J ·

Viva Colby Covington!!!

Nie alleen ‘n top sportman nie … maar ook man met ‘n gesonde verstand!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.