Uiteindelik – Alcaraz verdedig ʼn titel

Carlos Alcaraz vier sy spogsege in Barcelona. (Foto: Pau Barrena/AFP)

Carlos Alcaraz het al baie dinge in sy jong loopbaan bereik: Hy het ʼn paar ATP-titels agter sy naam, hy is ʼn Grand Slam-wenner en hy was al die wêreld se voorste speler.

Maar wat hy wel nog nie van sy lysie kon afmerk nie, is om een van sy titels suksesvol te verdedig.

Tot gister, natuurlik.

Die 19-jarige Spanjaard het vir Stefanos Tsitsipas in die eindstryd van die Barcelona-ope met 6-3 en 6-4 geklop. Dit was die tweede keer op ʼn streep dat hy met die louere in dié Spaanse stad wegstap.

Tsitsipas het weliswaar vroeg in die wedstryd ʼn voorsprong van 2-1 geniet, maar Alcaraz het daarna sy voete gevind en danksy sy tuisskare se aanmoediging was hy so te sê onstuitbaar.

“Die toeskouers het my aangevuur en dit is ʼn ongelooflike ervaring om die silwerware hier in Barcelona voor my familie en vriende omhoog te hou,” het Alcaraz gesê.

Dit was sy vierde agtereenvolgende oorwinning teen Tsitsipas, terwyl hy ook baie lanklaas op ʼn Spaanse tennisbaan die onderspit gedelf het.

“Ek wou van alles vergeet en net myself wees. Ek het net op die baan, my raket en die eindstryd gekonsentreer.”

Dan het Dusan Lajovic – die man wat met Novak Djokovic in die aanloop tot die eindstryd klaargespeel het – met die louere in die Banja Luka-ope weggestap.

Die Serwiër het Rusland se Andrey Rublev in die eindstryd (6-3, 4-6 en 6-4) geklop.

“Sjoe, dit was beslis my taaiste wedstryd van die afgelope paar maande. Ek was doodmoeg. In die beslissende stel kon ek nie meer my bene voel nie en ek het geweet dat Andrey met ʼn terugvegpoging vorendag sou kom. Gelukkig kon ek staande bly,” het Lajovic gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.