Uittrede wink dalk vir CrossFit-legende in 2022

Rich Froning het al vir talle CrossFit-hoogtepunte gesorg. Foto: Twitter.

Wanneer jy “CrossFit Games” op ’n internetsoekenjin intik, behoort Rich Froning een van die eerste name te wees wat jy raaklees.

Die 34-jarige van Cookeville in die VSA is immers ’n CrossFit-legende: Hy het vier keer agtereenvolgens met die individuele louere by die Spele weggestap, terwyl sy Mayhem Freedom-groep ook vyf keer die spankompetisie gewen het.

Froning het juis saam met Andrea Nisler, Chase Hill en Taylor Williamson vanjaar se spankompetisie in Madison, Wisconsin, oorheers. Vier eerste plekke ná vier agtereenvolgende fiksheidsuitdagings het net ’n gedeelte van die storie vertel.

Maar die horlosie staan vir niemand stil nie en die wêreldwye Covid-19-pandemie het Froning oor sy toekoms laat besin; tyd saam met sy jong gesin is vir hom baie belangrik.

“Soos wat ek nou voel, is volgende jaar se Spele waarskynlik my laaste een,” het hy in ’n onderhoud met Morning Chalk Up gesê.

Froning wil graag meer tyd saam met sy jong gesin spandeer. Foto: Twitter.

“Die kinders word ouer en sodra my CrossFit-loopbaan in die plek van tyd saam met hulle staan, moet ek dalk die sport, altans wat kompetisies betref, vaarwel toeroep.”

Froning is ’n uitgesproke Christen wat nie skroom om sy getuienis met ander te deel nie.

Die katarsis-oomblik in sy lewe het in 2010 gekom toe hy as individuele atleet in die Spele voorgeloop het. ’n Swak touklimsessie het egter daardie jaar sy kans om goud te wen in die wiele gery. Hy was platgeslaan.

Hy vertel dat hy ’n afgod van CrossFit gemaak en toegelaat het dat dit sy lewe oorheers; hy het sy waarde as individu in die sport geplaas.

Kort daarna het hy weer die Bybel noukeurig begin bestudeer en opnuut sy lewe aan die Here gewy.

“Alles wat ek in die Nuwe Testament gelees het, was op my lewe van toepassing. Dit is soos hulle sê ’n Lewende Woord, en dit was lekker om dit vir die eerste keer self te ervaar en nie net die woorde op papier te sien nie,” het hy gesê.

Hy vertel dat sy prioriteite daarna onmiddellik verander het. “Ek het nie meer gevra wat die Here vir my kan doen nie, maar wat ék vir Hóm kan doen.”

Froning is egter nog so gevaarlik soos altyd. Maar om jou CrossFit-loopbaan met tien goue medaljes af te sluit, sal enigiemand trots maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.