‘United het ’n spesiale plek in my hart,’ sê Ronaldo

Cristiano Vier ’n doel vir Manchester United in 2006. Foto: Andrew YATES/AFP.

Twaalf jaar nadat Cristiano Ronaldo Manchester United vir Real Madrid verruil het, sal die 36-jarige speler in alle waarskynlikheid sy loopbaan by Old Trafford afsluit.

Die Portugese ster het ’n kontrak van twee jaar met die Rooi Duiwels onderteken nadat hy – om eerlik te wees – nie meer baie lus was om vir Juventus te speel nie.

“Ek kan nie wag om weer voor ’n volgepakte stadion te speel en al die ondersteuners te sien nie. Ek sien daarna uit om by die span (ná internasionale verpligtinge) aan te sluit en ek hoop ons het ’n suksesvolle seisoen wat voorlê. Manchester United het ’n baie spesiale plek in my hart,” het Ronaldo gesê.

Hy het in sy aanvanklike United-jare ’n gedugte vennootskap met sir Alex Ferguson gevorm en saam het hulle drie Premierligatitels en die Kampioeneliga in 2008 verower.

Tog het Ronaldo Spaanse drome gehad en Real Madrid het in 2009 £80 miljoen vir Ronaldo se dienste betaal.

Cristiano Ronaldo tydens ʼn wedstryd tussen Frosinone en Juventus by die Benito Stirpe-stadion in Frosinone, Italië (23 September 2018). Foto: Federico Proietti/ANSA via AP

Daar het hy van die beste sokker in sy loopbaan gespeel; hy het 450 doele in 438 wedstryde aangeteken en toegesien dat die span die Kampioeneliga-beker in drie agtereenvolgende jare (2016, 2017 en 2018) omhoog gehou het.

Maar by Juventus wou dinge net nie reg loop nie.

Die Italiaanse klub kon in die Ronaldo-jare nie verder as die kwarteindstryd van die Kampioeneliga vorder nie, terwyl Inter Milan ook hul houvas op die Seria A-liga beëindig het.

Die opwinding is egter groot by Old Trafford.

“Daar is nie genoeg woorde om ’n speler soos Ronaldo te beskryf nie. Hy is nie net ’n briljante speler nie, maar ook ’n wonderlike mens. Ek is baie bly dat hy huis toe kom; hier waar alles eintlik vir hom begin het,” het Ole Gunnar Solksjaer (United-afrigter) gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Timo ·

Weet nou ook nie hoe spesiaal daai plekkie in sy hart is nie want Alex Fergusen moes hom oortuig om nie Man City toe te gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.