Ryan Sandes het tydens verlede jaar se streng inperkingsperiode 160 km (100 myl) by sy eie huis kafgedraf. Dit het die Suid-Afrikaanse ultramarathon-ster net meer as 26 uur geneem om die 1 463 rondes om sy erf te voltooi.
Môre, ’n bietjie meer as ’n jaar ná sy epiese agterplaasveldtog, gaan Sandes weer ’n wedloop van 100 myl aanpak; maar hierdie keer tussen die kranse van die Drakensberge.
“Ek het aanvanklik beplan om wedlope in Europa aan te durf, maar reisregulasies het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en ek het besluit om vir die Ultra Drakensberg in te skryf. Gelukkig het ek al meer as genoeg 100 myl-wedlope agter die blad en ek dink my lyf weet al hoe om my deur 160 km te dra,” het Sandes gesê.
Die 39-jarige langasem se ultramarathon-getuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof en hy was al wêreldwyd in aksie: Hy was onder meer eerste in wedlope soos The North Face 100 Australia, die Racing the Planet Madagascar en die Western States 100.
Maar tussendeur al die internasionale sukses sien hy steeds uit om in sy tuisland te hardloop.
“Die Drakensberg sorg altyd vir ’n ongelooflike sonsopkoms en sonsondergang; daarbenewens is dit altyd ’n hoogtepunt om in Suid-Afrika te hardloop.
“Vreemd genoeg het ek nog nooit voorheen ’n wedloop van 160 km hier aangepak nie en die 100 myl-wedloop is die Ultra Drakensberg se grootste trekpleister. Dit was dus ’n maklike besluit om te maak!”
Volgens Sandes sal die onbekende terrein hom help om skerp te bly – die natuurskoon sal ongetwyfeld sy konsentrasievlakke ’n hupstoot gee.
Buitendien het hy juis verlede jaar gesê dat die 100 myl in sy Kaapse agterplaas een van die taaiste uitdagings van sy loopbaan was.
“Wanneer ’n mens so ver hardloop, kan baie dinge verkeerd gaan en dit is normaalweg die persoon wat die kalmste bly wat die beste vaar. Ek wil net die wedloop geniet en die ongelooflike natuurskoon waardeer.”
Sterkte! Die “onbekende terrein” van die berge is nie jou speelmaat nie.