Van agterplaas na die Drakensberg vir legendariese Sandes

Ryan Sandes. Foto: Craig Kolesky/Red Bull.

Ryan Sandes het tydens verlede jaar se streng inperkingsperiode 160 km (100 myl) by sy eie huis kafgedraf. Dit het die Suid-Afrikaanse ultramarathon-ster net meer as 26 uur geneem om die 1 463 rondes om sy erf te voltooi.

Môre, ’n bietjie meer as ’n jaar ná sy epiese agterplaasveldtog, gaan Sandes weer ’n wedloop van 100 myl aanpak; maar hierdie keer tussen die kranse van die Drakensberge.

“Ek het aanvanklik beplan om wedlope in Europa aan te durf, maar reisregulasies het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en ek het besluit om vir die Ultra Drakensberg in te skryf. Gelukkig het ek al meer as genoeg 100 myl-wedlope agter die blad en ek dink my lyf weet al hoe om my deur 160 km te dra,” het Sandes gesê.

Die 39-jarige langasem se ultramarathon-getuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof en hy was al wêreldwyd in aksie: Hy was onder meer eerste in wedlope soos The North Face 100 Australia, die Racing the Planet Madagascar en die Western States 100.

Maar tussendeur al die internasionale sukses sien hy steeds uit om in sy tuisland te hardloop.

Hy is een van die wêreld se voorste ultramarathon-atlete. Foto: Twitter.

“Die Drakensberg sorg altyd vir ’n ongelooflike sonsopkoms en sonsondergang; daarbenewens is dit altyd ’n hoogtepunt om in Suid-Afrika te hardloop.

“Vreemd genoeg het ek nog nooit voorheen ’n wedloop van 160 km hier aangepak nie en die 100 myl-wedloop is die Ultra Drakensberg se grootste trekpleister. Dit was dus ’n maklike besluit om te maak!”

Volgens Sandes sal die onbekende terrein hom help om skerp te bly – die natuurskoon sal ongetwyfeld sy konsentrasievlakke ’n hupstoot gee.

Buitendien het hy juis verlede jaar gesê dat die 100 myl in sy Kaapse agterplaas een van die taaiste uitdagings van sy loopbaan was.

“Wanneer ’n mens so ver hardloop, kan baie dinge verkeerd gaan en dit is normaalweg die persoon wat die kalmste bly wat die beste vaar. Ek wil net die wedloop geniet en die ongelooflike natuurskoon waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Korrelkop ·

Sterkte! Die “onbekende terrein” van die berge is nie jou speelmaat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.