Van Coke en Hougaard trek bokshandskoene nader

Francois van Coke en Derick Hougaard gister in Pretoria.

Daar was Ali teen Foreman, Tyson teen Holyfield, Bart teen Marko in 7de Laan en nou ook Van Coke teen Hougaard.

Ja, jy het reg gelees: Die Suid-Afrikaanse rock-ster Francois van Coke en die Loftus-liefling Derick Hougaard gaan op 29 Mei hul bokshandskoene aantrek en mekaar by Time Square se Sun Arena in Pretoria in die kryt takel.

En ná gister se mediasessie by The Maslow in die Jakarandastad is een ding seker: Daar gaan met mening appels geswaai word.

“Hierdie is die ware Jakob. Ek oefen asof ek ’n bokser is en ek het al eintlik ’n bietjie vergeet van musiek maak. Om eerlik te wees, ek oefen om die geveg te wen,” het Van Coke gesê.

Derick Hougaard. Foto: Verskaf.

Volgens Hougaard het die twee baie respek vir professionele boksers en wil hulle tegniekgewys ook hul ondersteuners beïndruk; die geveg moet met ander woorde nie soos ’n vinnige geveg agter die snoepie tydens tweede pouse lyk nie.

Die twee oefen hard, eet reg en is die fiksste wat hulle in ’n lang ruk was.

Maar wat is ’n perskonferensie vóór ’n groot bokskragmeting sonder ’n lekker bekgeveg of twee?

“Ek is natuurlik ’n groot fan van Francois se musiek. Ek het dus onlangs na Musica gery en al sy CD’s opgekoop; net om gewoond te raak aan sy gille wanneer ek hom slaan,” het Hougaard geskerts.

Op ’n vraag of die rugbyspeler meer gewoond aan drukoker-situasies in die sportwêreld is, het Van Coke met ’n onmiddellike “ek is nie bang nie” geantwoord.

“’n Mens moet onthou dat rock ’n roll sy eie uitdagings het – jy is gereeld in ’n nuwe stad en jy is gereeld op die verhoog; ek dink dit gee jou ook die vermoë om druksituasies te hanteer.”

“Dan was ek [in my jong dae] ook al in ’n paar bar brawls betrokke!”

Hougaard het gebieg dat hy effens skrikkerig is – juis omdat dit ’n onbekende omgewing vir hom sal wees.

“Maar Sylvester Stallone het in een van sy Rocky-flieks gesê dat dit oukei is om by tye bang te wees.”

Die voormalige Bloubul-losskakel se grootte skeel Van Coke ook nie veel nie.

Francois van Coke. Foto: Henry Engelbrecht.

“Kyk, Derick kan my in die eerste ronde uitslaan want hy is baie groter as ek. Maar dit gaan nie gebeur nie.”

Volgens Van Coke oorweeg hy na AC/DC se It’s A Long Way To The Top of sy eie Dagdrome in suburbia om oor die luidsprekers te blaas wanneer hy na die kryt stap. Vir Hougaard is dit maklik: “Liefling gaan nog een keer in Pretoria gehoor word”.

Hierdie Boxop (soos wat dit bekendstaan) word deur Blue Banana Events aangebied en ondersteuners kan onder meer die stroom-aksie op Boxop se skakel volg, terwyl die geveg ook by sommige Nu Metro-teaters vertoon sal word.

Hoe om kaartjies te bespreek:

  • Stroomkaartjies is beskikbaar teen R150 by https://www.itickets.co.za.
  • ’n Beperkte aantal mense kan die geveg bywoon. Kaartjies kos R2 000 per persoon en dit is ook by https://www.itickets.co.za
  • Volgens die organiseerders is 500 kaartjies teen R250 per persoon beskikbaar om die aksie op die grootskerm by Time Square by te woon. Daar sal kosstalletjies en ’n biertuin wees.
  • NuMetro sal ook die geveg in sommige van sy teaters vertoon. Besoek numetro.co.za vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

ek persoonlik dink dat r2000 pp jaag baie mense weg, veral omdat hulle groentjies in boks is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.