Van Coke se vuishoue g’n dagdroom

Foto: Blue Banana Events.

Wanneer Tian Fick oor boks praat, kan jy maar luister. Die SA swaargewigkampioen het reeds op 14 April voorspel dat Francois van Coke ’n taai kalant in ’n bokskryt kan wees.

“Ek dink Francois het ’n taaiheid in hom waaroor slegs boksers beskik: Wanneer jy geslaan word, het jy die keuse om te vlug of om te veg; en hy het ongetwyfeld daardie fight. Hy beweeg goed en hy slaan goed; Derick Hougaard is in vir ’n ding!” was sy presiese woorde.

Druk nou die versnelknoppie na 29 Mei en Fick se profesie het in die Boxop-kryt ’n werklikheid geword toe Van Coke vir Hougaard ná ses indrukwekkende rondes geklop het.

Die kleiner rock-ster het rats in die kryt rondgedartel en hy het met ’n paar goedberekende houe gesorg dat die voormalige Springbok-losskakel gereeld op die agtervoet was. Anders as met die titel van sy groot treffer, was sy vuishoue g’n dagdroom nie.

Dit was nie lank nie of die sweet en bloed het begin spat.

Hougaard – wat self met baie goeie aggressie baklei het – se neus het begin bloei en hy het probeer om vir Van Coke met ’n paar sterk houe planke toe te stuur.

Foto: Blue Banana Events.

Helaas was dit hom egter nie beskore nie en Van Coke se arm is ná die geveg omhoog gehou.

Ja, ’n mens was vooraf effens skepties en jy het oor die geveg gewonder: Gaan dit dan ’n draaiboek soos ’n Amerikaanse rofstoeiprogram volg?

Maar toe hulle eers in die kryt begin beweeg, het jy besef dat hierdie die ware Jakob is – sonder enige pretensie of beheer.

“Ons wil graag dankie sê vir Francois en Derick vir hulle uithalervertoning op alle vlakke. Dié manne se professionaliteit, toewyding en vreesloosheid is ʼn voorbeeld vir ons almal,” het Anelia Marais van Blue Banana Events ná die afloop van die geveg gesê.

Hougaard het vooraf gesê dat die twee baie respek vir professionele boksers het en dat hulle tegniekgewys ook hul ondersteuners wil beïndruk. En ná ses aksiebelaaide rondes – waar selfs die grootste skeptikus vasgenael gesit en kyk het – het hulle dit beslis vermag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Ek ken skoolseuns wat albei op hul herrie sal gee…….

Francois Le Cochon

Die 2 het my verbaas, soos ou boksers geboks
My geld was op Hougaart, maar hy het te veel energie vermors deur van die begin af uiklophoue te wil gee. Dit het hom so moeg gemaak dat hy teen die einde nie meer sy arms kon oplig om homself te verdedig en veral sy gesig te beskerm. Maar het die geveg nogtans geniet

B-Man

Volgende wil ek vir Kurt Darren teen Bakkies Botha sien.

Robert

Van Coke moet minder tussen die koerante slaap.