Vandag se sportnuus

Chris Morris. Foto: GB Jordaan.

Krieket:

  • Die Nelson Mandela Bay Giants het gisteraand in Port Elizabeth soos ’n wafferse Arnold Vosloo in The Mummy-flieks uit die dode herrys om die Cape Town Blitz met vyf paaltjies in die Mzansi Superliga te klop.

Die Giants moes 187 lopies vir ’n oorwinning aangeteken het, nadat Quinton de Kock (39 van 18 balle) en Janneman Malan (31 van 22 balle) amok onder die Oos-Kapenaars se boulers gemaak het.

Die tuisspan se lopiejaagtog het op die slegste manier denkbaar begin en hulle het vroeg in hul beurt op 3/20 gesteier.

Maar Jon-Jon Smuts het met sy blitsbeurt van 73 (51 aflewerings) hulle weer op koers gekry, terwyl Marco Marias (40 van 20 balle) en Chris Morris (19 van 9 balle) die wa deur die drif getrek het.

  • In vandag se wedstryd speel die Tshwane Spartans teen die Durban Heat in ’n sopnat Pretoria.
  • Die 16-jarige Naseem Shah het toe inderdaad sy toetsbuiging vir Pakistan in die eerste toets teen Australië op die Gabba gemaak.

Pakistan kolf eerste en die jongste beskikbare telling is 187/6.

Rugby:

  • Die Barbarians-rugbyspan was net te sterk vir Brasilië en hulle het die tuisspan met 47–22 in Sao Paulo geklop.

Jano Vermaak het een van die Baa-Baas se drieë gedruk.

Puntemakers:

Barbarians: Drieë: Campese Maafu, Bautista Ezcurra, David Havili (2), Angus Cottrell (2) en Jano Vermaak. Doelskoppe: Santiago Iglesias (3), Havili (2) en Rory Best.

Brasilië: Drieë: Daniel Lima, Luiz Vieira, Felipe Cunha. Doelskoppe: Josh Reeves (2). Strafskop: Reeves.

  • Intussen is Dave Rennie as Australië se nuwe afrigter aangewys.

Die voormalige Chiefs-breier sal die leisels by Michael Cheika oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.