Vandag se sportnuus

Herschel Jantjies. (Foto: GB Jordaan)

Rugby

  • Die 23-jarige Herschel Jantjies sal vir die volgende paar seisoene nog vir die Stormers speel.

Die Wêreldbeker-wenner het ’n kontrak vir die volgende twee jaar met die Kapenaars onderteken.

“Herschel is definitief een van die WP se suksesstories oor die afgelope paar jaar en hy is beslis iemand wat baie tot ons spankultuur kan bydra. Ons wil hê hy moet deel van die groep bly,” het die Stormers-afrigter, John Dobson, gesê.

  • Intussen het die belanghebbendes van Wêreldrugby vergader om die toekoms van die internasionale rugbyjaar te bespreek.

Hoewel die meeste rugbywedstryde tot Mei afgelas is, gaan Juliemaand se internasionale toetse tot dusver voort.

“Volgens beraming sal die uitwerking van Covid-19 dalk nog vir maande op openbare en sportaktiwiteite gevoel word. Ons kyk na planne om die internasionale rugbykalender te beredder wanneer dit weer veilig is om op die veld voort te gaan,” het Bill Beaumont, Wêreldrugby-voorsitter, gesê.

Olimpiese Spele

  • Die president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Aleck Skhosana, is tevrede met Japan en die Internasionale Olimpiese Komitee se besluit om die Olimpiese Spele in Tokio uit te stel.

“Die nuwe verwikkelinge sal vir almal die geleentheid bied om al hul aandag ten volle op die bestryding van Covid-19 te vestig. Dit sal ook vir atlete ’n regverdige kans gee om ordentlik vir die Spele voor te berei sodra ons die virus bekamp het,” het Skhosana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.