Vanes-Mari: Ook glimlaggend en doelgerig voor die kamera

Foto: Katinka Productions.

Vanes-Mari du Toit was een van die Proteas se staatmakers op die netbalbaan. Sy het in amper 40 wedstryde vir die nasionale span gespeel en kragte teen gedugte teenstanders soos Irene van Dyk (Nieu-Seeland) en Catherine Cox (Australië) gemeet.

Boonop was sy ook deel van die aksie toe die Proteas Jamaika vir die eerste keer in 49 jaar gewen het – ’n prestasie wat sy tot vandag met heimwee onthou.

Maar deesdae het sy ’n netbalbal vir ’n mikrofoon verruil. En sy is net so talentvol en uitsonderlik voor die TV-kamera as aanbieder as wat sy as speler op die baan was.

Vanes-Mari was die afgelope jaar in vier kykNET-produksies as aanbieder te siene. Daar was Kwêla, Hoor My Sien My Soen My (HMSMSM), In Japan Ja en ’n paar kameerolle as kenner op SuperSport. Meer onlangs was sy die seremoniemeester van Afrikaans GAAN Global, ’n regstreekse vertoning met 26 kunstenaars.

Was dit maklik om die sprong van netbalspeler na TV-aanbieder te maak?

“Dit is twee heeltemal verskillende wêrelde. Mense sien altyd die ‘mooi’ van televisie raak, maar verstaan nie altyd hoe moeilik dit was om die skuif te maak nie. Ek voel terselfdertyd dat my dae as netbalspeler my goed voorberei het vir die sprong,” het sy aan Maroela Media gesê.

Foto: Katinka Productions.

Sy is bekend vir haar lewenslus en dat sy oënskynlik nie skaam is om foute te maak nie – ’n lewensuitkyk wat beslis vir punte onder kykers sorg.

“Buiten vir dáárdie insident op Dancing with the Stars SA, het ek al ’n hele paar bekendes se name verkeerd uitgespreek en sommer vir geen rede nie na Engels oorgeslaan. Dit wil vir my voorkom of ek eintlik ’n wandelende blaps is,” het sy geskerts.

Op ’n program soos HMSMSM – waar ’n deelnemer drie potensiële pasmaats deur middel van ’n lyfkamera beter probeer leer ken – moes daar al ’n paar snaakse dinge gebeur het.

“Ek lag in elk geval vir alles, maar daar was ongetwyfeld ’n hele paar snaakse stories op HMSMSM. Dit was die eerste keer dat ek in só ’n ateljee moes aanbied en ’n gehoorstuk moes dra waarmee die regisseur met my kan kommunikeer. Dit was baie snaaks om twee stemme gelyktydig te hoor en ek het permanent ’n vae uitdrukking op my gesig gehad soos wat ek probeer om te konsentreer. Deesdae gaan dinge darem baie beter!”

Haar man, Matthew Proudfoot, is ’n gewese Springbok-hulpafrigter wat saam met Rassie Erasmus-hulle die Webb-Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het. Deesdae is hy deel van Eddie Jones se Engeland-afrigterskorps en Vanes-Mari beplan om binnekort vir hom te gaan kuier.

“Hy is so drie weke gelede terug Londen toe om sy werksverpligtinge daar na te kom. Ek gaan in die middel van hierdie maand verlof neem om vir hom te gaan kuier.”

In aksie op die netbalbaan. Foto: Verskaf.

Natuurlik is sy ook trots op die prestasies van die Protea-netbalspan die afgelope ruk. Hulle het tot die halfeindstryd van die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool gevorder, terwyl hulle ook in ’n plaaslike reeks vir Engeland opdraande gegee het.

“My hart klop sommer vinniger wanneer ek die span sien presteer, want dit is my droom dat netbal en vroue in ons land die erkenning kry wat hulle toekom. Hulle werk ongelooflik hard en dit is wonderlik om hulle prestasies te volg.”

Sy vertel dat sport onlosmaaklik deel van haar lewe is, selfs al is sy deel van ’n aktualiteitsprogram of musiekfees.

“Ek rig steeds netbal af en is nog aktief besig met sport in die media as sportredakteur.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.