Maandag se voorlaaste ronde van die 2016 Varsity-netbalreeks sal nie net hewige wedywering bring nie, maar kan ook deurslaggewend wees in die wedloop na die uitspeelrondes.
Tuks is na die eerste vyf rondes die voorloper met 25 ligapunte, met die Pukke as die verdedigende kampioen kort op hulle hakke met 20 punte. Dié twee spanne het reeds in die vierde ronde teen mekaar gespeel. Tuks het Pukke toe 52-48 geklop.
Kovsies, Maties en die Madibaz het almal 15 punte met nog twee wedstryde oor om hulle posisie op die puntelys te verbeter.
Dis onwaarskynlik dat UJ (7 punte) steeds die halfeindstryde kan haal. Ikeys (5) en VUT (nul) is totaal uit die wedloop.
♦ Tuks, die enigste onoorwonne span, speel Maandag teen die Madibaz wat tans vyfde op die puntelys is. Tukkies het ʼn tuisvoordeel in die Rembrandtsaal in Pretoria. Kovsies, derde op die puntelys, en UJ speel ook in Pretoria teen mekaar.
Daar word ook twee wedstryde op Coetzenburg gespeel. Maties speel teen VUT en NWU Puk speel teen UCT Ikeys. Die Stellenbossers en die Pukke sal na verwagting albei vyf punte in hulle wedstryde verdien en hul uitspeelplekke bespreek.