Varsitynetbalreeks: Pukke, Tuks in stryd om die titel

Pukke en Maties in aksie. Foto: @varsitysportsSA/Twitter

Pukke en Maties in aksie. Foto: @varsitysportsSA/Twitter

Die halfeindronde van die Varsitynetbalreeks het Maandagaand verloop soos verwag is. Die Pukke het die Maties op Coetzenburg oortuigend geklop en Tuks het die Madibaz in Pretoria heeltemal oorrompel.

Die eindstryd tussen die Pukke en Tuks word aanstaande Maandag in die Rembrandtsaal in Pretoria gespeel. Die Pukke is die verdedigende kampioenspan.

Die Pukke het die Maties 61-50 in ʼn goeie wedstryd geklop nadat hulle in die eerste kwart reeds ʼn voorsprong van 18-8 daargestel het.

Die Maties het in die tweede kwart goed teruggeveg, maar daardie tien doele in die eerste kwart was uiteindelik net te veel om in te haal. Hulle het die agterstand in die tweede kwart met een doel verminder en by die halfpadmerk was die Pukke 35-26 voor.

Dit is veral in die doelsirkels waar die Maties nie kon kers vashou nie. Die Pukke se doelpersentasie was in dié stadium 94% en dié van die Maties 76%.

Die samespel tussen Renske Stoltz (hulpdoel) en Sigrid Burger (hoofdoel) was oudergewoonte puik. Die akkuraatheid waarmee die doelskieters balle gevoer is, het die Maties se verdedigers moedeloos gemaak.

Die Pukke se verdediging in en om die doelsirkel was ook baie goed.

Die Maties het egter verbete teruggeveg en die derde kwart 14-11 gewen. Hulle was in dié kwart selfs in ʼn stadium binne twee doele van die Pukke se telling.

Zandré Kruger is as speler van die wedstryd aangewys.

♦ In die ander halfeind was die wedstryd eintlik al ná die eerste kwart verby. Tuks het toe reeds 20-7 voorgeloop en die eindtelling was 87-22 in hulle guns.

Ná die tweede kwart het die Tuksafrigters die hele span verander met nuwe spelers en posisionele skuiwe. Dit was duidelik voorbereiding vir die eindstryd aanstaande week.

Die Madibaz het ook ʼn paar veranderinge aangebring en daar was ʼn kortstondige opflikkering in hulle spel. Die Tukkies was egter bloot net te lank, te vinnig en te ervare vir hulle.

Die Madibaz is trots daarop dat hulle wel die halfeindstryd gehaal het, iets wat hulle laas in 2013 reggekry het.

Tuks het nog nooit die Varsitynetbalreeks gewen nie terwyl die Pukke die verdedigende kampioene is. Indien die Tukkies wen, sal hulle die eerste span wees wat onoorwonne deur die hele reeks gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.