Verpligte kwarantyn laat Novak ook twyfel

Novak Djokovic spog met die silwerware in Melbourne. Foto: Fiona Hamilton/Tennis Australia/AFP.

Om vir 14 dae in ’n hotelkamer vasgekluister te wees, is ’n nagmerriesituasie vir enige iemand. En dit is juis hierdie kwarantynvooruitsig, selfs al is ’n speler ten volle ingeënt, wat Novak Djokovic oor sy deelname aan die Australiese Ope laat twyfel.

“Die groot probleem is wanneer jy op dieselfde vliegtuig as iemand is wat positief vir Covid-19 is; dan moet jy outomaties vir twee weke in ’n kamer bly,” het Djokovic gesê

Dit is presies wat in Januarie met nóg ’n Serwiese speler, Viktor Troicki, en 70 ander tennisspelers gebeur het.

“Ek het met baie van hulle gesels en dit bly ’n slegte herinnering vir almal. Ek weet nie of ek na Australië sal reis of nie. Ek weet nie eintlik wat presies aangaan nie; dit is ’n baie deurmekaar situasie.”

Want aan die een kant sê Scott Morrison, Australië se eerste minister, dat spelers wat nie ingeënt is nie, toegelaat sal word om te speel, mits hulle vir twee weke isoleer.

Aan die ander kant sê Daniel Andrews, Victoria-premier, dat slegs spelers wat ten volle teen Covid-19 ingeënt is, toegelaat sal word om in Melbourne af te slaan.

“Sommige van die spelers se kwarantynregulasies het hulle destyds toegelaat om te oefen, terwyl Viktor-hulle in hul hotelkamers moes bly. Dit is baie onregverdig om dan van ’n professionele speler te verwag om sy beste tennis te speel,” het Djokovic gesê.

Die Serwiese ster meen dat beserings ook dan ’n baie groter rol speel – hy het self vanjaar met ’n maagspierbesering in Australië gespeel.

“As hierdie regulasies van krag bly, glo ek dat baie spelers oor hul deelname sal wonder. Maar op die ou einde sal finansies ook ’n groot invloed op ’n speler se besluit hê.”

Djokovic wil nie sy inentingstatus bekend maak nie, terwyl ander spelers, onder wie Dominic Thiem en Andrey Rublev, gesê het dat hulle nou bereid is om ingeënt te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Dit is 100% reg. Jy weet nie watter walg siektes jou mede-passassiers het nie. En siende dat mens soos ‘n melaatse hanteer word as jy hoes op ‘n lughawe, dink ek dis beter as almal maar tuis bly en Wii-tennis teen mekaar speel.

Dirk Mostert ·

Boikot die Australiese Ope. Laat Thiem en kie maar hulself beskikbaar stel vir proefkonyne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.