Verrassings by Australiese Ope

Madison Keys van die VSA tydens die Australiese Ope (23 Januarie 2022) (Foto: Paul Crock/AFP)

Daar was reeds ʼn paar verrassings in die vroue-afdeling by die Australiese Ope in die ronde van 16.

Die ongekeurde Amerikaner Madison Keys het die agste gekeurde Spanjaard Paula Badosa 6-3 en 6-1 verslaan om na die kwarteindronde deur te dring. Keys se kragtige afslane teen 188 km/h was een te veel vir Badosa.

Keys sal in die kwarteind teen die Franse Ope-kampioen Barbora Krejcikova te staan kom. Sy het maklik gewen teen die tweemalige Australiese Ope-kampioen Victoria Azarenka. Azarenka sukkel met ʼn nekbesering en dit het gewys in die nederlaag met 2-6 en 2-6.

Nog ʼn Amerikaner, die 21ste gekeurde Jessica Pegula, het die Griek Maria Sakkari geklop om tot die kwarteind deur te dring. Die telling was 7-6 (7/0) en 6-3.

Die 27-jarige Pegula het gesê dit was die beste wedstryd wat sy vanjaar gespeel het. Sy het ook verlede jaar in die kwarteind gespeel, maar het toe teen die Amerikaner Jennifer Brady verloor. Pegula se pa is die miljardêr Terry Pegula wat onder meer die Amerikaanse voetbalkub, die Buffalo Bills, besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.