Versoek dat Olimpiese swemmers weer mag oefen

Kaylene Corbett en Tatjana Schoemaker. Foto: Reg Caldecott.

Van Suid-Afrika se topswemmers kan nie wag om weer in die swembad te spring nie; die afgelope agt weke se oefeninge buite die water het beslis sy tol geëis. Kaylene Corbett, wat vir die 200 m-borsslagitem in Tokio gekwalifiseer het, het ’n paar beserings opgedoen.

Dan is Rocco Meiring (swemghoeroe by die Universiteit van Pretoria) ook bekommerd oor Suid-Afrika se swemliefling, Tatjana Schoemaker.

Die jong swemmer was een van die gunstelinge om ’n medalje by volgende jaar se Olimpiese Spele te wen; sy het immers tweede in die 200 m-borsslag by verlede jaar se Wêreldkampioenskap geëindig.

“Die langste verposing wat Tatjana die afgelope twee jaar geneem het, was net 14 dae. Dit is nou al meer as 50 dae dat sy nie in die swembad was nie en jy hoef nie ’n wetenskapprofessor te wees om te besef dat dit haar vertonings sal beïnvloed nie,” het Meiring gesê.

Hoewel die Tukkie-afrigter die erns van die afsonderingstydperk besef, voel hy ook dat atlete die geleentheid gegee moet word om te oefen.

Rocco Meiring. Foto: Reg Caldecott.

“Swemmers is die enigste sportmanne of -vroue wat nie lekker op droë grond kan oefen nie. Dit het Kaylene twee jaar van ongelooflik harde werk gekos om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Nodeloos om te sê was sy ongelooflik gemotiveerd toe sy die nuus gehoor het dat sy in Tokio kan swem. Toe die afsonderingstydperk begin het, het sy buite die swembad steeds haar beste gelewer en sy het die beserings opgedoen.”

Volgens Meiring sal dit ’n rukkie neem voordat Corbett weer op alle silinders sal kan vuur. Geen borsslagswemmer kan eintlik ’n heup- of kniebesering bekostig nie.

Hy ondersteun Graham Hill – nasionale swemafrigter – se pleidooi dat Olimpiese swemmers na die swembad mag terugkeer, selfs al is dit onder streng gesondheidsmaatreëls.

“As afrigters moet ons daar wees vir ons swemmers en hulle beslis nie alleen in hierdie onsekere tye los nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.