Verstappen: ‘Dade tel meer as woorde’

Max Verstappen. Foto: Gonzalo Fuentes/AFP.

Ná die afgelope naweek se heldedade in Monaco, is die Nederlandse renjaer Max Verstappen eerste op die F1-punteleer met sy 105 punte. En volgens die Red Bull-spanbaas Christian Horner verdien die 23-jarige ster dit dubbel en dwars

Verstappen se foutlose sessie het vir Mercedes ’n bloedneus in die strate van Monte Carlo gegee. Die span se Lewis Hamilton kon slegs sewende eindig en Valtteri Bottas kon nie in die 32ste rondte uit die kuipe kom nie.

O ja, die uitslag bring ook mee dat Red Bull vir die eerste keer in ’n lang tyd weer op die vervaardigerspunteleer voorloop – ’n prestasie wat hulle laas in 2013 kon vermag.

Horner is, nodeloos om te sê, baie in sy noppies met sy span se vertoning, maar hy het ook gewaarsku dat die seisoen nog lank nie verby is nie en dat baie water nog in die see moet loop.

“Dit het egter ons stoutste verwagtinge oortref om in albei kampioenskappe voor te loop. Dit wys jou net hoe dinge kan verander. Dit is nou van kardinale belang dat ons tot die einde van die seisoen binne trefafstand moet bly,” het Horner gesê.

Die Monaco-terugslag moet vir Hamilton moeilik wees, veral nadat hy voor die wedren aangevoer het dat Verstappen knaend probeer om ’n punt te bewys.

“Ek dink Max voel dat hy dalk ’n punt moet bewys. Daarteenoor is ek glad nie in dieselfde bootjie nie; ’n F1-seisoen is immers ’n marathon en nie ’n naelloop nie,” het Hamilton verlede week gesê.

Verstappen weer het ná sy puik sege geskerts dat “dade meer tel as woorde”. Dit het duidelik vir die 36-jarige wêreldkampioen op die agtervoet geplaas en hy het teruggekap dat hy nie in bekgevegte belangstel nie.

Hy het egter erken dat harde werk op hom wag.

“Ek het vanuit die staanspoor aangevoer dat hulle [Red Bull] oor ’n motor beskik wat die kampioenskap kan wen en dit gaan baie taai wees om hulle te klop.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
koos10

Hou egter in gedagte dat Monaco ‘n ren is, wat, as jy voor is met die wegspring, en geen teespoed kry nie, daar geen geel vlae is en geen veiligheidsmotor nie, dan is jy verseker van die wen posisie. Max het goed gekwalifiseer, en bietjie geluk gekry van Charles se kant af. Hy het die wedren gewen toe die groen lig aangekom het en voor was in die eerste draai. Ek doen geen afbreuk aan Max of sy bestuursvernuf nie, maar stem saam met Christiaan, die seisoen is nog lank. Dan is daar nog die ding met hulle agterste vlerk… Lees meer »