Verstappen: ‘Die motor het skielik alle krag verloor’

Max Verstappen moes noodgedwonge die aftog in Bahrein blaas. Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Max Verstappen het waarskynlik Sondag iets sterkers as bloot ’n energiedrankie ná die nagmerrie-wedren in Bahrein nodig gehad.

Die verdedigende wêreldkampioen was goed op koers na nóg ’n podiumplek toe sy vurige renmotor skielik begin krag verloor het.

Die eindstreep was skaars twee rondes weg toe die jong Nederlander noodgedwonge aan die wedren moes onttrek. Boonop het Sergio Perez ook ’n soortgelyke probleem ervaar en hy kon ook nie die wedren voltooi nie.

Sodoende het Red Bull nie ’n enkele punt in Bahrein bymekaargemaak nie. Inderdaad ’n nagmerrie aanloop tot die seisoen soos wat Christian Horner (spanbaas) gesê het.

Volgens Verstappen het hy magteloos agter die stuur van sy renmotor gevoel. Hy het onder meer met sy stuurwerk gesukkel – hoe vinniger hy probeer ry het, hoe moeiliker het dinge geraak.

Hy was egter op dié stadium van die geveg in die tweede plek en ná al die tegniese probleme sou ’n podiumplek ’n uitstekende prestasie gewees het.

“Ek moes egter uit die bloute aan die wedren onttrek nadat die motor al sy krag verloor het. Dit wou voorkom asof geen brandstof die enjin bereik het nie. Dit is baie sleg dat al twee motors nie die wedren kon voltooi nie en ons sal beslis moet ondersoek instel.”

’n Kort rukkie nadat Verstappen vies die aftog moes blaas, was Perez ook in die moeilikheid.

“Dit het glad nie goed gegaan nie. Net soos in Max se geval het ek alle krag verloor en daar was niks wat ek aan die saak kon doen nie,” het die Mexikaanse renjaer gesê.

Volgens die motorsportwebblad GP Blog.com werk Red Bull se tegniese span hard om die fout te herstel; hulle wil immers nie ’n herhaling van die fiasko in Saoedi-Arabië hê nie.

Die F1-span wil egter nie te veel geheime verklap nie.

Nog ’n steen des aanstoots is die feit dat Lewis Hamilton met sy derde plek nou 15 punte op die jaerspunteleer het; ’n groter voorsprong as wat hy in die ganse 2021-seisoen teen Verstappen geniet het.

Die Mercedes-renjaer was egter nie veel van ’n bedreiging nie en hy sou waarskynlik met ’n vyfde plek tevrede moes gewees het as dit nie vir Red Bull se tegniese probleme was nie.

Die tafel is beslis vir ’n opwindende F1-seisoen gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Twallie

Wel, Gasly se motor se battery het aan die brand geslaan. RB het gesê die battery het gekonk wat iets veroorsaak het met die brandstofpomp. So iets…

As ek kyk na al die pitstops en die gekla oor die radio’s het die manne gesukkel met hul bande ook.

Die 2022 motor gee blykbaar probleme. Net Ferrari het gelag.

Was bly om Ferrari weer te sien wen en ook Magnussen wat goed gedoen het vir agterlopers, HAAS. McLaren was nêrens.

Ek hoopr die jaar skud dinge bietjie op en meer spanne raak kompeterend. Dis afgesaag as net een of twee spanne domineer.

piet

Dit sal nogal help as hulle genoeg petrol ingooi. Hierdie ouens werk die petrolsituasie tot op mililiters uit. As die motor om een of ander rede meer brandstof gebruik as normaalweg, kan jy maklik sonder brandstof gaan staan teen die einde.