Verstappen: ‘Dit is ’n uitdaging net om ’n wedren te voltooi’

Max Verstappen moes gister vir die tweede keer in drie wedrenne die aftog blaas. Foto: William West/AFP.

Max Verstappen, die verdedigende wêreldkampioen, kan seker al van pure frustrasie die hare uit sy kop trek.

Want vir die tweede keer in drie wedrenne moes hy noodgedwonge die aftog blaas nadat sy Red Bull-renmotor nie die mas kon opkom nie.

Die 24-jarige Nederlander moes in Bahrein (skaars twee rondes weg van die wenstreep) aan die wedren onttrek, waarna hy skaars ’n week later weer op alle suiers gevuur het om in Saoedi-Arabië met die louere weg te stap.

Die noodlot het hom egter gister weer in Melbourne getref en sy wedren het in die 39ste ronde tot ’n skielike einde gekom.

As Verstappen ’n krieketspeler was, sou die tellings van sy laaste drie kolfbeurte waarskynlik só gelyk het: 0, 100* en 0.

Volgens die jongste jaerspunteleer is die veglustige Red Bull-man tans in die sesde plek – drie punte agter Lewis Hamilton en 46 punte agter Ferrari se Charles Leclerc.

“Ons is so ver agter die ander spanne, dit is nie eens snaaks nie. Ek dink nie eens nou aan die wêreldtitel nie, net om ’n wedren te voltooi is ’n veel groter uitdaging,” het Verstappen ná gister se fiasko gesê.

Hy weet egter ook dat hy nie vir Leclerc sou kon inhaal nie – die Ferrari het net hopeloos te veel spoed gehad.

Maar die punte wat jy met ’n tweede plek verdien, is steeds baie beter as geen punte nie.

“Ek was maar al te bewus van die feit dat ek nie by Charles kon kers vashou nie, selfs al het ek my bes probeer om hom onder druk te plaas. Ek kon egter nie eens die wedren voltooi nie en dit is pleinweg onaanvaarbaar.”

Volgens Christian Horner (Red Bull-spanbaas) is span nog onseker oor wat presies in Melbourne verkeerd gegaan het.

“Ek het ongetwyfeld begrip vir Max se frustrasie. Ek dink nie eens ons kan nou die skuld op die enjin pak nie; ek vermoed dat daar nou ’n probleem met die brandstof was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

RB is besig om Max sleg te kniehalter met hul probleme.

As daar fout was met die brandstof sou ander jaers sekerlik ook probleme gehad het?

Oppas, Red Bull, as julle gaan aanhou om hom ‘n dooie donkie te gee om mee te jaag, gaan julle hom verloor. Wêreld kampioene wil nie onseker wees van hul motors elke wedren dag nie.

Janine ·

Ek dink jou kommentaar is simpel. As ‘n stoere Ferrari ondersteuner, het ek steeds respek vir die feit dat Max Verstappen ‘n uitstekende renjaer is. Ek het dit gesê van sy eerste wedren as 17jarige. Persoonlik hou ek nie van sy houding nie, maar hy is een van die bestes. Mens kan verstaan dat hy gefrustreerd is!

Frans ·

Dit is opmerklik dat daar meer probleme met Max se motor is as die van Perez se motor.Dit is onverskoonbaar en hoop ek dat die laaste keer is.

Lollapop ·

Wie huil? dit is motorsport en ‘n wedren wat nie vir sissies is nie, so moenie sulke aantygings maak as jy nie weet wat aangaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.