Verstappen en Leclerc sorg vir riller-ren in Oostenryk

Red Bull se Max Verstappen van Nederland vier sy oorwinning op die podium by die Formule Een Grand Prix in Oostenryk by die Red Bull Ring-renbaan in Spielberg (30 Junie 2019). (Foto: AP Photo/Ronald Zak)

Twee 21-jarige renjaers, Max Verstappen (Red Bull) en Charles Leclerc (Ferrari), het Sondag in Spielberg nie net ʼn einde aan Lewis Hamilton en die Mercedes-span se absolute oorheersing in vanjaar se Formule Een-reeks gemaak nie, maar hulle het nuwe lewe in vanjaar se saai reeks geblaas.

Verstappen het op die Red Bull Ring-baan die son nog helderder laat skyn op die duisende Nederlandse ondersteuners, byna almal geklee in oranje, toe hy die Oostenrykse Grand Prix in 1:22:01.822 gewen het.

Hy is 2.724 sekondes ná hom gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari) en dan Valtteri Bottas (Mercedes), Sebastian Vettel (Ferrari), Hamilton en Lando Norris (McLaren).

Dit was ʼn dramatiese ren, want Hamilton, wat ses van die eerste agt renne vanjaar gewen het, het vroeg reeds probleme met sy voorste drukvlerk ondervind. Hy was nooit ʼn faktor nie, veral nie ná ʼn lang kuipestop om die drukvlerk te vervang nie.

Ferrari se Charles Leclerc van Monaco skud hande met spanlede nadat hy tweede geëindig het by die Formule Een Grand Prix in Oostenryk by die Red Bull Ring-renbaan in Spielberg (30 Junie 2019). (Foto: AP Photo/Ronald Zak)

Boonop was daar kommunikasieprobleme tussen Vettel en sy tegnici toe hulle nie voorbereid was toe hy die eerste keer bande omgeruil nie. Daar was ʼn behoorlike geskarrel voordat Vettel, darem sonder dat hy te veel tyd ingeboet het, kon voortjaag.

Vettel het later ook vir ʼn tweede kuipestop aangedoen om weer bande om te ruil, maar selfs die sagter bande het nie die nodige impak gemaak nie. Sy groot troosprys was darem dat hy vir Hamilton verbygesteek het.

Intussen het Leclerc, wat tot in die 69ste ronde voor was, en Verstappen gesorg dat die adrenalien van elke ondersteuner vloei.

Verstappen het sy kans gebruik en Leclerc verbygesteek.

Leclerc was aan sy buitekant in die draai, maar Verstappen het sy lyn behou en hulle het liggies teen mekaar gebots waarna Leclerc van die baan gejaag het.

Ferrari se Charles Leclerc van Monaco (links) kyk toe terwyl Red Bull se Max Verstappen van Nederland sjampanje op een van sy spanlede gooi op die podium tydens die Formule Een Grand Prix in Oostenryk by die Red Bull Ring-renbaan in Spielberg (30 Junie 2019). (Foto: AP Photo/Ronald Zak)

Die voorval is ná die ren ondersoek.

Dit was die jong Nederlandse Belg, wie se pa, Jos Verstappen, twee Formule Een-renne in sy loopbaan gewen het, se tweede opeenvolgende oorwinning in Oostenryk.

Dit was ook net die regte doepa wat Formule Een nodig gehad het om nie in ʼn groef van eentonigheid te beland nie.

Hamilton is steeds gemaklik voor in vanjaar se reeks, gevolg deur Bottas en Vettel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cuda ·

Hierdie was great vir F1 op die oog af. Maar ek sukkel om te byt aan ‘n Merc wat alles die jaar domineer en skielik maak Lewis ‘n amateur fout en aanvaar straf gedee. Verder om skielik op ‘n baan waar Merc goed gedoen het in verlede, is hulle totaal van koers af. Lewis kry ‘n neus verandering sonder dat daar enige ooglopende skade is. Na +/- 5 jaar van Merc dominansie en veral Kanada en Frankryk, dink ek F1 het gesien die sport is besig om te duik en ‘n paar strategiese ouens in die span met silver karre gevra om asb maar te wys hulle is ook mens. Niemand wat so domineer kan so gou soveel “probleme” hê nie. Moet sê Max is baie goed en glo hy sal Lewis enige tyd met selfde gereedskap kan wen.

Gerhard ·

Ek wonder ook maar of Mercedes nie gevra was om een “op te offer” in die sport se belang nie. So ook die beslissing wat MV
laat wen het.
Sal nie die eerste keer wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.