Verstappen gekroon ná drama in Japan

Red Bull se Max Verstappen (11 Desember 2021) (Foto: Kamran Jebreili/Pool/AFP)

Red Bull gee jou nie net vlerke nie – dit gee vir Max Verstappen ook paddavoete. Die Japanse Grand Prix was aanvanklik meer van ʼn swemgala as ʼn F1-wedren, maar ná ʼn lang onderbreking weens gietende reën het Verstappen met meer as 25 sekondes sy twaalfde wedren van die seisoen gewen. Hy het daarmee ook sy tweede wêreldkampioenskapstitel beklink.

Charles Leclerc was aanvanklik tweede, wat hom nog in die wedloop om die titel sou hou, maar hy het om die laaste draai kortpad gevat in ʼn verbete geveg met Verstappen se spanmaat, Sergio Perez. Daarvoor is hy met 5 sekondes gestraf. Dit het aan Verstappen die wêreldkroon besorg en aan Perez die tweede plek op die podium.

Die uiteindelike wedren het net minder as 40 minute geduur want dis al tyd wat oor was nadat die wedren aanvanklik gestop is oor waterpoele op die Suzuka-baan, wat dit uiters gevaarlik vir die renjaers gemaak het.

Boonop was die renjaers en spanbase woedend oor wat gebeur het kort voor die oorspronklike wedren gestaak is. Carlos Sainz het met sy Ferrari van die nat baan af gegly en teen ʼn muur gebots. In daardie nat toestande met sigbaarheid reeds uiters swak, het ʼn nutsvoertuig op die baan beweeg om die renmotor te verwyder.

Die rede vir die woede was ʼn voorval op 5 Oktober 2014 op dieselfde baan. Die renjaer Jules Bianchi het ook op ʼn sopnat baan beheer oor sy Marussia verloor en teen ʼn nutsvoertuig gebots. Hy het noodbehandeling gekry en is in ʼn koma gehou totdat hy op 17 Julie 2015 oorlede is.

Die renjaers se grootste probleem was nie die reën nie, maar die watersproei wat die motors voor jou byna onsigbaar maak. Die F1-motors kom ook nie met windskerms en ruitveërs nie. Pirelli-bande se F1-baas, Mario Isola, sê elke band skop 85 liter water per sekonde in die lug in teen ʼn spoed van 300 km/h.

Lewis Hamilton moes met ʼn vyfde plek tevrede wees. Sy Mercedes het nie genoeg spoed gehad om die Alpine van Esteban Ocon verby te steek nie en hy moes telkemale die aftog blaas.

Die volgende wedren is op 23 Oktober in Austin, Texas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.