Verstappen kry sy neus voor in Abu Dhabi

Max Verstappen in aksie in Abu Dhabi. (Foto: Ali Haider/AFP)

Ja, hy het in aanloop tot die amptelike wedren so ʼn bietjie gesukkel om sy Red Bull-vuurwa op die renbaan te hanteer, maar Max Verstappen staan nogtans heel voor op die wegspringrooster in Abu Dhabi.

ʼn Verstelling hier en ʼn verstelling daar is glo al wat nodig was en die wêreldkampioen het in die beslissende kwalifiseringsronde te veel skietgoed vir sy teenstanders gehad.

“Dit is eintlik vreemd. Dit was ʼn gesukkel vir die grootste gedeelte van die naweek, maar ons kon beslis ʼn meer aggressiewe benadering in die laaste ronde volg. Ek is in my noppies om eerste op die wegspringrooster te staan,” het Verstappen gesê.

Die Nederlandse motorsportster jaag sy 19de oorwinning van die seisoen.

Charles Leclerc is saam met hom in die voorste gestoeltes van die Grand Prix, gevolg deur Oscar Piastri en George Russell.

Volgens Leclerc het sy goeie vertoning – ook in die laaste ronde – hom ietwat onkant betrap.

“Ek moes vir oulaas alles in die stryd werp en gelukkig het dinge mooi vir my uitgewerk. Ek is baie tevrede met die tweede plek; veral nadat ek in die eerste twee rondes gesukkel het,” het die Ferrari-renjaer gesê.

Die immergroen Fernando Alonso spring in die sewende plek weg, terwyl Sergio Perez en Lewis Hamilton onderskeidelik met ʼn negende en 11de wegspringplek tevrede moet wees.

Die wedren begin om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Wegspringrooster:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Oscar Piastri (McLaren)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Lando Norris (McLaren)
  6. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  7. Fernando Alonso (Aston Martin)
  8. Nico Hulkenberg (Haas)
  9. Sergio Perez (Red Bull)
  10. Pierre Gasly (Alpine)
  11. Lewis Hamilton (Mercedes)
  12. Esteban Ocon (Alpine)
  13. Lance Stroll (Aston Martin)
  14. Alex Albon (Williams)
  15. Daniel Ricciardo (AlphaTauri)
  16. Carlos Sainz (Ferrari)
  17. Kevin Magnussen (Haas)
  18. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  19. Zhou Guany (Alfa Romeo)
  20. Logan Sargeant (Williams)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.