Verstappen laat Hamilton in doodsnikke bloos

Foto: Christophe Simon/AFP.

Max Verstappen is ’n verstommende bestuurder. Die Red Bull-renjaer het vandag eerste oor die wenstreep in die Franse Grand Prix gejaag om sy houvas op die F1-punteleer te verstewig.

Die 23-jarige Nederlander het Lewis Hamilton in die doodsnikke van die wedren verbygesteek om die 13de oorwinning van sy loopbaan te behaal, terwyl dit ook die derde agtereenvolgende sege vir die Red Bull-span in vanjaar se seisoen was.

Toe die geruite vlag vir Verstappen geswaai het, het hy dubbel en dwars vir sy blaps vroeg in die wedren vergoed toe Hamilton hom verbygesteek het.

Maar die Red Bull-span se strategie was klopdisselboom – hulle het twee keer die kuipe besoek en met hul nuwer bande het hulle uiteindelik hakskene vir Mercedes gewys.

Foto: Nicolas Tucat/AFP.

“Ek het die wedren teen die einde geniet, maar dit was aanvanklik super moeilik gewees. Dit was taai, maar ongetwyfeld die moeite werd,” het Verstappen gesê.

Sy spanmaat, Sergio Perez, het die wedren in die derde plek voltooi, terwyl Mercedes se Valtteri Bottas vierde was.

Die uitslag van die wedren moet veral vir Bottas ’n bitter pil wees om te sluk. Sy versoek om net soos Verstappen twee keer die kuipe te besoek het op dowe ore geval en die Red Bull-renjaers het hom die een na die ander verbygesteek.

  • Uitslae:
  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Valtteri Bottas (Mercedes)
  5. Lando Norris (McLaren)
  6. Daniel Ricciardo (McLaren)
  7. Pierre Gasly (Alphatauri)
  8. Fernando Alonso (Alpine)
  9. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)
  • Punteleer (bestuurders):
  1. Max Verstappen 131 punte
  2. Lewis Hamilton 119 punte
  3. Sergio Perez 84 punte
  4. Lando Norris 76 punte
  5. Valtteri Bottas 59 punte
  • Punteleer (motorvervaardigers):
  1. Red Bull 215 punte
  2. Mercedes 178 punte
  3. McLaren 110 punte
  4. Ferrari 94 punte
  5. Alphatauri 45 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Bloos…..?

Racheltjie Debeer

Welgedaan Max, Perez & Red Bull

Elinette

Briljant!!!!! Dit maak my sommer weer lus om te begin F1 kyk.

Kerneels

Dalk moet sir hamilton hom maar weer liewers tot die politiek begewe… Sy ‘ampsvoertuig’ so effe uit rat gespring teen die einde.

Piet

Ek dink selfs Lewis se baas was bly, sy salaris word blykbaar verdubbel as hy weer kampioenskap wen. En dis die tipe geld wat partykeer meer as ‘n lotto kaartjie uitbetaling is.