Verstappen lag Hamilton-bewerings af

Max Verstappen en Lewis Hamilton. FotoL Emilio Morenatti/AFP.

Die F1-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het in ’n woordestryd met Max Verstappen betrokke geraak nadat hy gesê het dat die Red Bull-ster dalk ’n punt probeer bewys.

Die twee renjaers se motors het al vanjaar aan mekaar geraak-raak, terwyl die geveg om die boonste plek op die podium na verwagting net feller sal word namate die seisoen vorder.

“Ek dink Max voel dat hy dalk ’n punt moet bewys. Daarteenoor is ek glad nie in dieselfde bootjie nie; ’n F1-seisoen is immers ’n marathon en nie ’n naelloop nie,” het Hamilton gesê.

Die 36-jarige Mercedes-renjaer het tot dusver drie van die vier wedrenne in 2021 gewen, terwyl die jong Nederlander in een wedren eerste oor die wenstreep gejaag het.

Tog het Verstappen die bewerings afgelag en gesê dat hy niks vir niemand hoef te bewys nie. Hy het bygevoeg dat albei renjaers hul bes doen om kontak tydens wedrenne te vermy.

“Ons gee ons beste en doen alles binne ons vermoë om nie teen mekaar op die baan te stamp nie; kom ons hoop dinge bly so,” het Verstappen gesê.

Ná die Spaanse Grand Prix het Hamilton gesê dat hy baie meer vertroud met sy aartsvyand se vermoë agter die stuur is.

“Dit was ’n baie goeie dag. Ek het vandag baie van Max geleer; waarskynlik meer as in al die vorige wedrenne saam,” het Hamilton destyds aangevoer.

Hoewel die wêreldkampioen nie veel wou uitbrei oor wat presies hy wyser geword het nie, het hy gesê dat ’n mens lekker kennis kan inwin as jy weet waarna om te kyk.

“Ek was op sy spoor en het baie dinge geleer oor sy motor en hoe hy dit gebruik.”

Maar hoewel Verstappen op die vooraand van die Monaco-wedren erken het dat hy al vantevore met die spesifieke wedren gesukkel het, is hy oorgehaal om die bordjies te verhang.

“Ek het weliswaar al ’n paar foute hier gemaak, maar dié naweek is die perfekte geleentheid om dinge reg te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sambok

Ga-windgat

Janine

Go Maxie, ons is agter jou.

Annakapat

Max is maar net so windgat

Jakes

Hamilton se knie buigery laat my stik. Sal nooit n aanhanger van hom wees nie.

Bertus

Lewis for World Prezzie!!!!