Verstappen lewer koninklike vertoning in Monaco

Max Verstappen het vandag met die louere in Monaco weggejaag. (Foto: Remko de Waal/ANP via AFP)

Oudergewoonte was Red Bull die span om dop te hou en soos altyd het een van sy renjaers nie teleurgestel nie.

Max Verstappen is die wenner van die Monaco-Grand Prix nadat hy so te sê met ʼn foutlose vertoning in die strate van Monte Carlo vorendag gekom het.

Die Nederlander was amper 28 sekondes vinniger as ʼn uitstekende Fernando Alonso in die tweede plek.

Terwyl die rykes die aksie vanuit hul luukse motorseiljagte gevolg het, het Verstappen presies vir die ander gewys hoe om ʼn straatwedren in die prinsdom te wen.

Hy het goeie besluite geneem, ʼn wakende oog oor sy bande se degradasie gehou en ʼn antwoord vir elke vraag gereed gehad.

Selfs toe dit in die 50ste ronde begin reën het.

Die nat baan het vir ʼn bykomende kinkel in straatwedren-avontuur gesorg en die renjaers moes spartel om hul vuurwaens om die draaie in toom te hou.

“Die renmotors het nou wraggies die beheer van ʼn winkelwaentjie,” het David Croft uit die kommentatorshokkie laat hoor.

Maar tussendeur alles het Verstappen op koers gebly om sy vierde wedren van die seisoen te wen. Dit was terselfdertyd Red Bull se derde oorwinning op ʼn streep in Monaco

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Fernando Alonso (Aston Martin)
  3. Esteban Ocon (Alpine)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Charles Leclerc (Ferrari)
  7. Pierre Gasly (Alpine)
  8. Carlos Sainz (Ferrari)
  9. Lando Norris (McLaren)
  10. Oscar Piastri (McLaren)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 144 punte
  2. Sergio Perez: 105 punte
  3. Fernando Alonso: 93 punte
  4. Lewis Hamilton: 69 punte
  5. George Russell: 50 punte
  6. Carlos Sainz: 48 punte
  7. Charles Leclerc: 42 punte
  8. Lance Stroll: 27 punte
  9. Esteban Ocon: 21 punte
  10. Pierre Gasly: 14 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 249 punte
  2. Aston Martin: 120 punte
  3. Mercedes: 119 punte
  4. Ferrari: 90 punte
  5. Alpine: 35 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Max is besig om sy plek langs Senna en Schumacher in te neem, hy word net beter en beter.

kragaap ·

Max en die Red Bull span is in ‘n ander klas. Geen kompetisie kom naby hul nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.