Verstappen: ‘Moenie pa en seun met mekaar vergelyk’

Mick en Michael Schumacher.

Deur die jare het sekere pa-en-seunkombinasies bobaas-prestasies op die sportveld opgelewer. Dink maar aan Peter en Shaun Pollock of Gysie en Ruan Pienaar.

In die opwindende wêreld van F1-wedrenne is Michael en Mick Schumacher ongetwyfeld die bloubloed-kombinasie.

Michael word deur talle kenners as een van die beste renjaers ooit bestempel – saam met Ferrari het hy ’n rits wêreldtitels verower – terwyl Mick hard op pad is om in sy pa se voetspore te volg.

Maar, waarsku Max Verstappen, dit is onregverdig om die twee Schumachers met mekaar te vergelyk.

“Dit is oor die algemeen deksels moeilik om iemand met Michael Schumacher te vergelyk, juis omdat hy so baie gewen het,” het die Red Bull Racing-renjaer gesê.

Max Verstappen. (xpbimages.com/Pool via AP)

“Ek dink dit is die hoofrede waarom Mick nie noodwendig met sy pa vergelyk moet word nie. Hy is natuurlik Michael se seun, maar hy is ook uit eie reg ’n renjaer.”

Tog het die 23-jarige respek vir die jonger Schumacher se vermoëns agter die stuur.

“Hy is ’n talentvolle bestuurder en veral sy verbysteek-vermoëns is baie goed. Boonop vaar hy ook glad nie te sleg in die F2-reeks nie.”

Mick moes die afgelope naweek in Duitsland ’n F1-oefensessie in ’n Alfa Romeo aangepak het, maar gure weer het die geleentheid in die wiele gery.

“Die skuif van F2 na F1 is egter nie te maklik nie en jou hele loopbaan begin so te sê weer van voor af. Maar hy is talentvol en Ferrari is baie goed vir hom; enigiets is dus moontlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SonderSkaamte ·

ek wonder waar Lewis sou wees was dit nie vir Micheal se ongeluk nie. Ek vra maar net…… #grootbek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.