Verstappen sorg (weer) vir vuurwerkvertoning

Max Verstappen het die finale wedren van 2023 in Abu Dhabi gewen. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Max Verstappen het met ʼn kersie-op-die-koek-vertoning in die laaste wedren van 2023 vorendag gekom toe hy met die louere in Abu Dhabi weggejaag het.

Die wêreldkampioen het amper 20 sekondes vinniger as Ferrari se Charles Leclerc oor die wenstreep gejaag. Dit was sy 19de wedren van die seisoen.

Dan het ʼn straf van vyf sekondes – omdat hy ʼn bietjie té aggressief met Lando Norris skouers geskuur het – vir Sergio Perez van die podium geskop.

Die Mexikaanse renjaer het dus die wedren amptelik in die vierde plek voltooi nadat hy aanvanklik tweede oor die wenstreep was.

Leclerc en George Russell het uiteindelik saam met Verstappen op die podium gestaan.

“Dit was ʼn ongelooflike seisoen. Ek was skoon emosioneel; dit was die laaste keer in dié renmotor en ons was ʼn baie goeie kombinasie,” het Verstappen gesê.

“Ek is terselfdertyd ook trots om die finale wedren van 2023 te wen – dit gaan baie moeilik wees om in die toekoms weer ʼn soortgelyke vertoning te lewer, maar ek het vanjaar baie geniet.”

Die wedrenaksie hervat op 2 Maart 2024 wanneer die F1-renmotors weer vonke in Bahrein sal opskiet.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Lando Norris (McLaren)
  6. Oscar Piastri (McLaren)
  7. Fernando Alonso (Aston Martin)
  8. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  9. Lewis Hamilton (Mercedes)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 575 punte
  2. Sergio Perez: 285 punte
  3. Lewis Hamilton: 234 punte
  4. Fernando Alonso: 206 punte
  5. Charles Leclerc: 206 punte
  6. Lando Norris: 205 punte
  7. Carlos Sainz: 200 punte
  8. George Russell: 175 punte
  9. Oscar Piastri: 97 punte
  10. Lance Stroll: 74 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 860 punte
  2. Mercedes: 409 punte
  3. Ferrari: 406 punte
  4. McLaren: 302 punte
  5. Aston Martin: 280 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.