Verstappen spring eerste in België weg

Max Verstappen agter die stuur van sy renmotor. Foto: Twitter.

Max Verstappen en Lewis Hamilton se tweestryd om die F1-wêreldtitel word vanmiddag weer in België hervat. Die 23-jarige Red Bull-renjaer het in nat toestande die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel en sal heel voor wegspring.

Hamilton het die derde vinnigste tyd opgestel met George Russell wat as buffer tussen dié twee sal dien.

“Dinge is nooit maklik in nat toestande nie, maar ek voel heel goed. Weerstoestande kan egter verander en baie dinge kan gebeur,” het Verstappen gesê.

Hamilton geniet tans ’n voorsprong van agt punte op die jaerspunteleer, maar volgens Giedo van der Garde sal die verdedigende wêreldkampioen hard moet werk om sy houvas op die punteleer te behou.

“Daar is nog soveel wedrenne oor in die seisoen en agt punte is nie veel van ’n voorsprong nie. Ek dink Verstappen is ongetwyfeld ’n krag waarmee rekening gehou moet word. Selfs ná daardie groot ongeluk op Silverstone het hy die vinnigste tyd in sy eerste oefenronde in Boedapest opgestel; ’n mens kan nie met sy ingesteldheid fout vind nie,” het die voormalige F1-renjaer gesê.

“Ek dink Max beskik oor dieselfde veggees as Lewis en daar wag ’n opwindende tyd op F1-liefhebbers.”

Die aksie begin vanmiddag om 15:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Kwalifiserende tye:
  1. Max Verstappen 01:59.765
  2. George Russell 02:00.086
  3. Lewis Hamilton 02:00.099
  4. Daniel Ricciardo 02:00.864
  5. Sebastian Vettel 02:00.935

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.