Verstappen spring voor weg in Abu Dhabi

Red Bull se Max Verstappen poseer met sy toekenning ná hy vir die eerste wegspringplek gekwalifiseer het vir die Abu Dhabi F1-wedren (11 Desember 2021) (Foto: Kamran Jebreili/Pool/AFP)

As dit ʼn boksgeveg was, het Max Verstappen (Red Bull) die eerste hou geplant teen Lewis Hamilton (Mercedes) in vandag se beslissende Abu Dhabi Grand Prix.

Die Nederlandse jaer spring voor weg en Hamilton in die tweede plek. Lando Norris (McLaren) het verras toe hy vir die derde wegspringplek gekwalifiseer het. Verstappen se spanmaat Sergio Perez is in die vierde wegspringplek – reg agter Hamilton.

Die tafel is gedek vir die grootste drama van ʼn epiese Formule 1-seisoen. Verstappen en Hamilton is gelyk op punte in die bestuurderskampioenskap, maar Verstappen is eintlik die voorloper omdat hy een meer Grand Prix gewen het. Dit is die eerste keer sedert 1974 dat die twee aanspraakmakers op die titel kop-aan-kop jaag in die laaste pylvak.

Die laaste ses wenners in Abu Dhabi het ook voor weggespring en Verstappen was verlede jaar die wenner.

Dit het tydens vroeë kwalifiseringsrondes gelyk of Hamilton voor gaan wegspring, maar sake het verander nadat Red Bull se werktuigkundiges deurnag aan Verstappen se motor gewerk het. Met die hulp van ʼn sleepstroom wat geskep is deur sy spanmaat Perez het Verstappen die vinnigste ronde voltooi. Hy kon ʼn halwe sekonde vinniger as Hamilton om die baan jaag.

Hamilton het nie sy reputasie gebou deur dinge vir teenstanders maklik te maak nie. Dit sal weer vandag die geval wees wanneer hy probeer om ʼn rekord agste wêreldkampioenskap te beklink. Hy het uit die kuipe gekom om te probeer om Verstappen weer verby te steek, maar kon die gaping net tot 0,371 sekonde verklein.

Mercedes se spanbaas Toto Wolff het gesê Verstappen wat voor wegspring beteken dis 1-0 vir Red Bull, maar daar moet nog baie water in die see loop.

“Ek dink hy (Hamilton) gaan kwaad wees en dis ʼn goeie ding wat hom sal motiveer om hom (Verstappen) te jag. Hierdie is ʼn lang wedren en dit is Lewis Hamilton in die motor.”

Hamilton se spanmaat, Valtteri Bottas, spring in die sesde plek weg. Dit is sy laaste wedren in ʼn Mercedes voordat hy na Alfa Romeo toe skuif. Hy begin reeds Dinsdag met toetsritte by sy nuwe span.

Die wedren begin 15:00 Suid-Afrikaanse tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkprop ·

Al wen Verstappen nie vandag nie (en ek hoop regtig hy doen) dink ek hy het sy stem dik gemaak en mense begin notisie te neem van hom. Hy het baie vêr gekom die afgelope jaar en volgende jaar gaan dinge baie beter wees. Ek het nie baie van hom gehou nie, maar hy het my respek verdien en ek ondersteun hom 100%.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.