Verstappen spring voor weg in Amerika

Die Red Bull-jaer Max Verstappen. (Foto: Mark Thompson/Getty Images/AFP)

Die tafel is gedek vir nog ʼn dramatiese tweestryd tussen Max Verstappen (Red Bull) en Lewis Hamilton (Mercedes) by die Amerikaanse Grand Prix.

Verstappen spring vir die negende keer in die heel voorste plek weg nadat hy gisteraand voor ʼn skare van 120 000 mense net 0,2 sekondes vinniger as Hamilton was. Die Nederlander is ook net ses punte voor Hamilton in die bestuurderskampioenskap.

Sergio Perez spring in die derde plek weg.

Hamilton se spanmaat, Valtteri Bottas, was vierde vinnigste. Hy skuif egter af na die negende wegspringplek omdat hy gestraf word vir sy keuse om ʼn nuwe enjin in te span.

Die res van die boonste helfte van die wegspringplekke word gevul deur Charles Leclerc en Carlos Sainz van Ferrari en hulle word gevolg deur die twee McLarens van Daniel Ricciardo en Lando Norris.

Hamilton het vyf van die agt wedrenne gewen wat al op die Austin-baan in Texas beslis is. Hy het ook sy wêreldtitels in 2015 en 2019 op dié baan beklink. Bottas het die wedren in 2019 gewen en verlede jaar is dit afgelas weens die pandemie. Verstappen was al tweede, derde en vierde in Texas. Die Red Bull-span het al in Texas gewen toe Sebastian Vettel in 2013 eerste oor die eindstreep gejaag het.

Die organiseerders verwag ʼn skare van 140 000 toeskouers vir vanaand se wedren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.