Verstappen steeds gunsteling om titel te wen

Red Bull se Max Verstappen. Foto: Twitter.

Red Bull kon weliswaar laas met die louere by die Nederlandse Grand Prix wegry, maar volgens Christian Danner is Max Verstappen steeds die gunsteling om die wêreldtitel te wen.

“Ek dink Verstappen het steeds ’n baie goeie kans om die titel te verower. Maar ek voorspel dat dit ’n naelbytstryd gaan wees en dat ons eers ná die finale wedren in Abu Dhabi sal weet wie die uiteindelike wenner is,” het die voormalige renjaer gesê.

Valtteri Bottas het die afgelope Turkse Grand Prix gewen, terwyl Sergio Perez derde oor die eindstreep gejaag het. Danner glo dat dié twee renjaers belangrike rolle in Mercedes en Red Bull se titeldrome kan vertolk.

“Perez het Lewis Hamilton van meer punte weerhou en dit is waarvoor hy daar is. Dit is ’n klinkklare bewys dat ondersteunende bestuurders nie net daar is om ’n span vol te maak of om ander renjaers se strategiese planne deurmekaar te krap nie.”

Maar intussen het Christian Horner (Red Bull-spanbaas) gewaarsku dat Mercedes met nuutgevonde spoed jaag. Hy is veral bekommerd oor die snelheid (tot 20 km/h vinniger) wat Hamilton kan bereik wanneer hy oor ’n reguit gedeelte van ’n renbaan blits.

Die verdedigende wêreldkampioen is tydens die Turkse Grand Prix gestraf omdat hy sy vierde enjin van die seisoen gebruik het. Hoewel hy 11de weggespring het, het hy steeds vyfde geëindig.

Hoewel Mercedes se onverwagse spoedinspuiting ’n paar wenkbroue laat lig het, het Horner gesê dat sy span nie amptelik daarteen beswaar aangeteken het nie.

“Ons sal doodeenvoudig net ons motor na die beste van sy vermoë moet gebruik.”

Die volgende Grand Prix is op 24 Oktober in die VSA en die Red Bull-man weet dat die renbaan in Austin een van Hamilton se vestings is.

“Ons is mal oor hierdie tweestryd en ons sal nie sommer die aftog blaas nie. Dit is ongelooflik dat ons in hierdie stadium van die seisoen steeds ’n kans het om die jaers- en vervaardigerskampioenskap te wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanja ·

Deesdae stink Vertsppen se houding erger as bloukaas, ek sal hom nie graag wil sien as ń kampioen nie

Richard ·

Ek is ‘n Verstappen ondersteuner, maar ek dink Hamilton gaan ongelukkig die pyp rook. Die Mercedes is ewe skielik blitsvinnig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.