Vettel praat oor uittrede, taaiste teenstanders

Sebastian Vettel (Foto: F1, Twitter)

Sebastian Vettel het vroeër aangedui dat hy sy valhelm ná vanjaar se F1-aksie gaan wegbêre. ʼn Aksiebelaaide loopbaan van 15 jaar behoort egter baie herinneringe te bevat – goed én sleg.

Daar was die vier wêreldtitels saam met Red Bull en die teleurstelling saam met Ferrari. Tussendeur het hy met van die beste renjaers van die era skouers geskuur.

En volgens die 35-jarige Duitser was een sy grootste teenstanders ongetwyfeld Lewis Hamilton.

Die twee renjaers het veral in Vettel se tyd by Ferrari (2015 tot 2020) gereeld swaarde agter die stuur van hul renmotors gekruis en in 2017 het Hamilton ʼn punteleer-agterstand uitgewis om die titel onder Vettel se neus weg te raap.

“Lewis was nog altyd ʼn taai kalant, maar hy het dinge aansienlik moeiliker in my tyd by Ferrari gemaak. Dan was Fernando Alonso ook ʼn derduiwel toe hy by Ferrari was,” het Vettel gesê.

Die 41-jarige Alonso is juis as die Duitser se plaasvervanger by Aston Martin aangewys en Vettel meen dat die veglustige Spanjaard sommer dadelik die bul by die horings vir sy nuwe span sal pak.

“Fernando het niemand se raad nodig nie. Ek dink ook nie hy is iemand wat juis daarvan hou om na raad te luister nie. Hy het al so baie dinge gesien en ervaar; hy sal oukei wees.”

Vettel het tans 32 punte op die jaerspunteleer en hy behoort nie eens sigbaar in Max Verstappen se truspieëltjie te wees nie.

Sou ʼn sterker renmotor sy uittredeplanne met ʼn jaar of twee uitgestel het?

“Ek weet nie. Ek sou dalk dieselfde besluit gemaak het, maar wie weet? Ek is glad nie opgewonde oor ʼn tiende plek nie omdat ek weet hoe dit voel om eerste te eindig.

Ek is nog steeds mal oor die sport en die besluit om alles vaarwel te roep was inderdaad baie moeilik. Maar terselfdertyd is ek deeglik bewus van die toewyding wat F1 verg en ek glo die tyd is reg om ander dinge te doen.”

Die F1-aksie skuif hierdie naweek na die VSA en die wedren sal Sondagaand van 21:00 op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.