Vettel word deel van Aston Martin-span

Sebastian Vettel. Foto: AP Photo/Joan Monfort.

Noem hom maar Vettel, Sebastian Vettel. Want as ’n motor goed genoeg is vir ’n superspioen soos James Bond is, dan is dit ongetwyfeld ook goed genoeg vir ’n F1-renjaer.

Daar was vroeër die week gerugte dat Vettel, ’n renjaer met vier wêreldtitels agter sy naam, volgende jaar vir Aston Martin sal ry.

Dit kom nadat die Mexikaanse renjaer Sergio Pérez aangedui het dat hy nie meer deel van Racing Point, ’n span wat volgende jaar tot Aston Martin herdoop word, se planne is nie.

“Alles in die lewe het ’n begin en ’n einde. Ná sewe jaar sal my tyd by die span tot ’n einde kom,” het Pérez gesê.

Vettel beleef egter ook ’n sukkelseisoen by Ferrari en vreugdevure wat hoog met sy koms in 2015 gebrand het, sal nou nie eens warm genoeg wees om die kaas op jou braaibroodjie te smelt nie.

Die afgelope naweek was dit byvoorbeeld die eerste keer in meer as 30 jaar dat nie ’n enkele Ferrari-motor in die tien top-wegspringplekke by hul tuiswedren in Monza weggetrek het nie.

Tog is Vettel die derde suksesvolste jaer in Ferrari-geskiedenis, terwyl hy die meeste punte vir die span aangeteken het.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, veral as jy na Sebastian se waarde as bestuurder en mens kyk. Daar is geen spesifieke rede wat tot die ooreenkoms gelei het nie, behalwe dat die tyd reg was vir ons paaie om te skei,” het die Ferrari-baas, Mattia Binotto, destyds gesê toe daar aangekondig is dat Vettel die span aan die einde van die huidige seisoen sal verlaat.

Vettel is tans 13de op die individuele ranglys, terwyl daar lankal reeds bevestig is dat sy plek in die rooi Ferrari-sitplek deur Spanje se Carloz Sainz ingeneem sal word.

Dalk sal die skuif na Aston Martin weer nuwe vuur in die Duitser se enjin blaas. Hy was immers die jongste wêreldkampioen nóg toe hy die titel in 2010 as ’n 22-jarige gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

My eerste gedagte was dieselfde as die skrywer s’n. Dalk sal hulle hom waardeer, want hy is nie ‘n slegte bestuurder nie, net sy humeur is af en toe ‘n probleem. Hy kan nog ‘n goeie 5 jaar jaag en verdien om ‘n span te kry wat baie gegroei het.
Ek is net jammer dat Perez uit gaan, ek het nog altyd gehoop dat hy ook ‘n wenner sal kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.