Video: CrossFit-atlete sê tuisbly is tans die beste oefening

Mat Fraser oefen tans in sy motorhuis. Foto: Facebook.

Enige CrossFit-atleet wat sy sout werd is, sal waarskynlik aanhou oefen selfs al is sy laerug in 14 verskillende én gelyktydige spasmas. Maar Covid-19 het oor die wêreld ’n reuse-invloed op almal se lewe: Verskeie internasionale CrossFit-kompetisies is gekanselleer, terwyl baie oefenplekke se deure gesluit is.

Nou het van die wêreld se voorste atlete, onder wie Mat Fraser, Noah Olsen, Katrin Davidsdottir en Annie Thorisdottir, hulle tot sosiale media gewend om ’n spesiale boodskap aan CrosFitters oor die hele wêreld te stuur.

Hoewel die meeste van hulle gemaklik vanaf hul huise kan oefen, knaag die onsekerheid van die amper wêreldwye tydperk van afsondering aan almal.

“Mense is teleurgesteld dat hulle nie meer na ’n gimnasium kan ry om te oefen nie; en dit is verstaanbaar. Mense wat ’n baie groot rol in my lewe speel, het byvoorbeeld so pas gehoor dat hulle vir ’n maand nie mag werk nie. Ek het net eenvoudig gesê ek sal hulle tot die beste van my vermoë bystaan,” het Fraser, die huidige Spele-kampioen, gesê.

Atlete soos Katrin Davidsdottir is onseker wanneer hulle weer mag deelneem. Foto: Facebook.

Die meeste atlete weet self nie wanneer hulle weer toegelaat sal word om op die groot verhoog deel te neem nie, maar hulle het eintlik uit een mond gesê dat dit hulle nie sal onderkry nie.

“Ek doen my bes om myself nie jammer te kry nie; daar het soveel van my planne en drome vir vanjaar in die slag gebly. Maar dan dink ek dat soveel mense oor die wêreld se planne in ’n oogwink verander het. Almal is bekommerd oor hul werk of onderneming,” het Katrin Davidsdottir (voormalige Spele-kampioen) gesê.

“Dit is egter nou die wêreld se kans om te wys dat ons daar is vir mekaar,” het nóg ’n oudkampioen van Ysland, Annie Thorisdottir, bygevoeg.

Volgens Fraser moet mense nie selfsugtig in hierdie tye wees nie.

“Mense moet besef dat dit nie oor hulself gaan nie, maar die mense met wie jy in aanraking kom wat nie so gesond is soos jy nie. Jy probeer nie net om jouself teen die virus te beskerm nie, maar ook almal rondom jou.”

“Kies om beter en sterker as ooit vantevore te wees. Wanneer hierdie dinge alles verby is – en dit sál so wees – sal ons so dankbaar wees vir wat ons eens as ‘gewone’ dae bestempel het. En dit is beslis iets om na uit te sien,” het hulle afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.