Video: Jy sal nie sommer sy naam met ’n plank kan slaan nie

George Hood op pad na sy wêreldrekord. Foto: Twitter.

Kyk, om net vir 30 sekondes te plank kan in ’n nagmerrie ontaard. Jou kop begin met jou smokkel – jy sien byvoorbeeld in jou geestesoog jou destydse buurtannie van 1963 in Kuruman wat vir jou ’n toebroodjie oor die draadheining aanbied – terwyl jou lyf onbedaarlik begin bewe; asof jy Arktiese weerstoestande met net jou frokkie en ’n PT-broek aanpak.

Dink net hoe moet dit wees om langer as agt uur te plank?

Dít is presies wat George Hood gedoen het toe hy die Guinness-wêreldrekord in Chicago verbeter het.

Die 62-jarige Hood is ’n voormalige seesoldaat van die Amerikaanse marinekorps en hy het dié posisie vir ’n verstommende agt uur, 15 minute en 15 sekondes gehou. Sodoende het hy die vorige wêreldrekord van agt uur en een minuut verpletter.

Foto: Twitter.

Moet ook nie dink dat die man in die fetusposisie gaan lê en homself jammer gekry het nadat hy die rekord laat spat het nie. Aikôna, hy het terstond 75 opstote afgevuur.

Hy het egter wel gesê dat hy nie sommer gou weer sal probeer om sy rekord te verbeter nie.

Volgens Hood het hy vir 2 100 uur geplank ter voorbereiding van sy wêreldrekordpoging.

“Ek het heeltemal afstand gedoen van die werklikheid van die tikkende horlosie. Dit is ’n tegniek wat ek maar oor die jare bemeester het,” het Hood in ’n onderhoud gesê.

Rock-musiek het kliphard oor die luidsprekers geblêr terwyl hy op sy voorarms en tone gelê het.

“Ek het nog altyd gedroom om ’n rock-ster te wees, selfs net vir 24 uur. Nou ja, vir daardie agt uur was ek beslis een gewees.”

  • Hood het vantevore die plank-rekord in 2011 agter sy naam gehad. Sy tyd van 1:20 uur is in 2016 deur Sjina se Mao Weidong vermorsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

Te veel van ‘n goeie ding is ook nie goed nie.

antieke antie

min mense wat dit kan doen…bravo