Video: Ook Conor McGregor oefen in sy motorhuis

Conor McGregor. Foto: Twitter.

Conor “Notorious” McGregor was nog nooit iemand wat vir ’n konfrontasie teruggestaan het nie; nou doen hy ook sy deel om die Covid-19-pandemie te beveg deur by die huis te bly.

Die 31-jarige Ierse hokvegter het ’n video van homself op sy amptelike Twitter-rekening gelaai waar hy besig is om in sy motorhuis aan sy bokshoue en refleksbewegings te skaaf.

“Fokus op dit wat jy moet doen,” sê hy voordat hy begin appels swaai en, net soos die boksende Bart destyds in 7de Laan, ’n bietjie “buk en bekruip”.

McGregor het in Januarie sy terugkeer tot die Ultimate Fighting Championship se groot verhoog met ’n klinkende oorwinning oor Donald “Cowboy” Cerrone in Las Vegas gevier.

Die Ier het toe soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en Cerrone met sy gedugte linkervuis probeer plattrek. Toe dít misluk het, het hy sy teenstander in ’n omhelsing nadergetrek.

Waar ’n drukkie egter normaalweg met vertroosting verbind word, het hy met sy skouer laat waai en Cerrone ’n hele paar keer daarmee bygedam.

Die Amerikaner is onverhoeds betrap, sy neus is gebreek en McGregor het woerts-warts die oorhand gekry. ’n Skop teen die kakebeen, ’n paar vuishoue later en die kragmeting is stopgesit.

Die hele storie het net 40 sekondes geduur.

I am back, baby! Ek het vandag geskiedenis gemaak deur die eerste UFC-vegter te word wat uitklopoorwinnings in drie verskillende gewigskategorieë behaal het. Skryf maar gerus weer my naam in die geskiedboeke,” het ’n verheugde McGregor agterna gesê.

Maar vir eers doen hy sy deel om die koronavirus te beveg.

In nog ’n Twitter-inskrywing het hy gesê dat hy die wêreld se respek en bewondering vir mediese personeel het.

“Ek is in verwondering oor hierdie mense (medici). Elkeen van hulle veg in die voorste linies en verrig ongelooflike werk. Dankie,” het hy geskryf nadat 80 Ierse dokters besluit het om van Australië terug te keer om die virus in hul geboorteland te help beveg.

Hy het mense ook aangemoedig om by die huis te oefen, terwyl hy self beloof het om R18 miljoen se mediese voorraad aan hospitale te skenk.

“Nou, meer as ooit vantevore, moet ons tuis bly en vir ons land se gesondheid en veiligheid bid. Ons eie lewens, asook dié van ons geliefdes hang daarvan af. Ons moet mense aanmoedig om selfs in die afsonderingstydperk aan te hou oefen en gesond te eet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae