Video: Tieneratleet laat oë rek met 100 m-tyd

Matthew Boling kan blitsig hardloop. Foto: Facebook.

Blykbaar kan dit lekker warm in Texas word, maar die witwarm-vertoning van ’n 18-jarige hoërskoolleerder het gesorg dat die kwik behoorlik op die atletiekbaan in dié Amerikaanse deelstaat styg.

Matthew “White Lightning” Boling het die wêreld aan sy voete nadat hy onlangs die 100 m in ’n tyd van 9,98 s afgeblits het.

Boling was in aksie by ’n streeksbyeenkoms in Houston toe hy dié warrelwindtyd opgestapel het. Hoewel dit die vinnigste 100 m-tyd van alle Amerikaners jonger as 20 jaar (ooit) is, staan dit nie as ’n amptelike rekord nie omdat hy ’n hupstoot van die wind gekry het.

Volgens die tydhouers het daar ’n wind van 4,2 m/ph (sowat 6,7 km/h) gewaai.

“Toe ek wegspring, het ek geweet dit gaan ’n vinnige tyd wees. Ek het die krane oopgedraai en besluit om my bes te gee; ek is aangenaam verras met die tyd,” het Boling aan die Houston Chronicle gesê.

By dieselfde byeenkoms het hy gesorg dat sy span ook die 400 m-aflos wen. Sy individuele tyd was ’n blitsige 40,72 s.

Boling se vorige beste tyd was 10,22 s.

  • Maroela Media het vroeër berig oor nóg ’n Amerikaner, die blitsige Rudolph Ingram, wat op sewejarige ouderdom die 100 m in 13,48 s kan hardloop.
  • Simon Magakwe was die 100 m-wenner in die senior ASA-kampioenskap op Germiston. Sy tyd was 10,05 s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

Pragtig Seunie, al het jy die wind van voor gekry a.g.v. die wind van agter. Daar by julle waai gelukkig nie die winde van diskriminerende kwotawinde van gedwonge verandering.

En nou? ·

Dankie tog dis Amerika anders was daar nie plek vir ‘n wit mens in die span nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.