Vlugbalspeler verruil die strand vir ys

Saam meet sy SA yshokkiespan. Von Ludwiger is in die agterste ry, agtste van links af. Foto: Verskaf.

Hy wou eers Namibië in strandvlugbal by die komende Olimpiese Spele in Tokio verteenwoordig, maar toe steek ’n universele probleem – ’n gebrek aan geld – ’n stokkie in dié droom se wielspeke.

Maar waar een deur toe gaan, gaan ’n ander een beslis oop. En Danilo von Ludwiger – ’n man wat medies aan die Universiteit van Pretoria studeer – is tans saam met Suid-Afrika se o.20-yshokkiespan by die Wêreldkampioenskap (Afdeling III) in Bulgarye.

Die Suid-Afrikaners het gister met 6-1 teen Australië verloor en Von Ludwiger glo dat die span net vir hulself moet vies wees.

In aksie as ’n vlugbalspeler. Foto: Verskaf.

“Om dinge pleinweg te stel: Ons het drooggemaak. Ons het vroeg in die wedstryd voorgeloop, maar daarna vyf doele afgestaan. Ons kon net nie weer ons pad terugvind nie,” het hy gesê.

Sy yshokkiestorie het snaaks genoeg by rolskaatshokkie begin.

Sy aggressiewe manier van speel het afrigters laat regop sit en kort voor lank het hy Namibië op die Junior Wêreldkampioenskap verteenwoordig.

En soos wat enige avontuurlustige sportman sou doen, het hy ook sy voelers na sy sportspoort se ander dissiplines begin uitsteek.

Hy het sy eerste yshokkiewedstryd in Julie verlede jaar gespeel.

“Ek het in die tweede afdeling teen ’n paar ouer spelers gespeel en ek het in my eerste twee wedstryde reeds sewe doele aangeteken. Daar is toe besluit dat ek eerder teen o.20-spelers moet kragte meet!”

Die keerpunt in sy yshokkieloopbaan was toe hy vir die nasionale o.20-uitdunne gekies is. Von Ludwiger was toe besig met sy eksamen en hy moes mooi dink of hy moet speel of eerder studeer.

“Ek het besluit om eerder te gaan speel en dinge het baie mooi uitgewerk: Ek is vir Suid-Afrika gekies én ek het geslaag!”

Hy vertel dat hy darem nie heeltemal sy rug op vlugbal gedraai het nie en hy hoop om Tukkies in verskeie toernooie te verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.