Voetbesering eindig Rafa se tennisjaar

Rafael Nadal vier sy oorwinning in die eindstryd van die Italiaanse Ope. Foto: Filippo Monteforte/AFP.

Dit is amptelik. Rafael Nadal se voetbesering beteken dat hy nie weer vanjaar by ’n internasionale tennistoernooi in aksie sal wees nie.

Die 35-jarige Nadal het pas die aankondiging op Twitter gemaak.

“Hallo almal, ek wil julle in kennis stel dat ek ongelukkig ’n einde aan my 2021-seisoen moet bring. Ek sukkel eerlikwaar baie met my voet en ek het voldoende tyd nodig om te herstel,” het hy gesê.

Die Spanjaard het reeds vanjaar se aksie op Wimbledon en by die Olimpiese Spele in Tokio misgeloop en die jongste verwikkeling beteken dat hy ook nie by die Amerikaanse Ope in New York sal afslaan nie.

Hy sukkel al geruime tyd met die besering en hy het weer tydens die Citi-Ope in Washington daaroor gepraat.

Nadal is in die derde ronde van die Citi-Ope deur Lloyd Harris uitgeskakel. Foto: Twitter.

“Ek het ’n moeilike paar maande agter die blad en ek kon soms nie eens oefen nie, maar vandag het ek baie beter op die baan beweeg. Dit is vir my belangrik want ek wil aanhou om die sport te geniet en te glo dat alles moontlik is,” het hy gesê kort nadat hy deur Suid-Afrika se Lloyd Harris uitgeskakel is.

Nadal het vanjaar die Italiaanse Ope in Rome vir die tiende keer in sy loopbaan gewen, maar sy Franse Ope-opmars is in ’n titaniese halfeindstryd deur Novak Djokovic gestuit.

Maar oudergewoonte sal hy nie sommer handdoek ingooi nie en hy het beloof dat hy die herstelproses met mening sal aanpak.

“Julle kan egter seker wees dat ek elke dag sal veg om so gou as moontlik terug op die baan te wees.”

“Ek gaan my ondersteuners baie mis, maar ek sal weer terug wees,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Natasha

Dis bitter hartseer, maar ons wens hom alle sterkte met die herstel toe.