Voetbesering kniehalter Nadal ook in Toronto

Rafael Nadal in aksie. (Foto: Trevor Collens, AP)

Rafael Nadal se voetbesering het ook ’n stokkie voor sy teenwoordigheid in die Kanadese Ope gesteek.

Die 35-jarige speler, wat al vyf keer vantevore met die louere in Toronto weggestap het, het bevestig dat hy hom aan die toernooi onttrek.

“Ek sukkel nou al vir ’n geruime tyd met die besering en ek gaan vir eers terug na Spanje om volkome te herstel. Weens die pyn geniet ek tans nie my tennis nie,” het Nadal gesê.

Ondanks verlede week se nederlaag in die derde ronde van die Citi-Ope teen Suid-Afrika se Lloyd Harris in Washington, het die Spanjaard gemeen dat sy voet beter is.

“Ek het ’n moeilike paar maande agter die blad en kon soms nie eens oefen nie, maar vandag het ek baie beter op die baan beweeg. Dit is vir my belangrik, want ek wil aanhou om die sport te geniet en te glo dat alles moontlik is,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels toe gesê.

Dit lyk egter asof dié beseringspook hom maar net nie wil uitlos nie.

“Ek glo dat ek tans nie in staat is om op die hoogste vlak mee te ding nie, juis omdat my voet my beweeglikheid kwaai beïnvloed.”

Nadal is nou in ’n wedloop teen tyd gewikkel om betyds vir die Amerikaanse Ope in New York gereed te wees. Die vierde en laaste Grand Slam-toernooi van die jaar begin op 30 Augustus.

Hy het die toernooi al vier keer in sy loopbaan gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.