Voetbesering kniehalter Nadal weer

Rafael Nadal groet die skare ná sy nederlaag in Rome. Foto: Andreas Solaro/AFP.

Rafael Nadal se knaende voetbesering het hom gister in veral die derde stel teen Denis Shapovalov gepla.

Die Spanjaard het die herontmoeting met die jong Kanadees met 1-6, 7-5 en 6-2 verloor. Sodoende het sy drome van ’n 11de Italiaanse Ope-titel in Rome skipbreuk gely.

“Ek het weens my voet weer baie pyn ervaar. Ek is ’n speler wat noodgedwonge met ’n besering moet saamleef en dit is soms baie moeilik om dinge so te aanvaar,” het die 35-jarige speler ná die wedstryd gesê.

Volgens Nadal het die besering weer sy kop in die tweede stel begin uitsteek, terwyl dinge amper ondraaglik in die derde stel geword het. Hy het egter steeds vir Shapovalov met sy oorwinning geluk gewens.

Die einste besering het ook verlede jaar gesorg dat hy vir ’n hele paar toernooie buite aksie was en hy het onder meer die Olimpiese Spele en die Amerikaanse Ope misgeloop.

“Dit is deesdae vir my moeilik om vir ’n paar agtereenvolgende dae te oefen. As speler moet ek goed op die baan kan beweeg as ek met die bestes wil saamgesels, en dit is iets wat ek deesdae nie meer kan inoefen nie. Die ergste is dat ek nou ook voel dat ek beter begin speel; ek was byvoorbeeld baie tevrede met my vertoning in die eerste stel teen Denis.”

Die Franse Ope is om die draai en Nadal sal alles in sy vermoë doen om gereed vir dié ikoniese kleibaantoernooi te wees.

“Dit is tyd dat ek dinge aanvaar en aanhou veg. Ek gaan my dokter saam met my na Roland Garros neem; dalk help dit.”

In ander aksie het Novak Djokovic maklik met Stan Wawrinka (6-2 en 6-2) klaargespeel. Die Serwiër speel later vandag teen Kanada se Felix Auger-Aliassime in een van die kwarteindstryde.

  • Uitslae:

Denis Shapovalov klop Rafael Nadal met 1-6, 7-5 en 6-2.

Novak Djokovic klop Stan Wawrinka met 6-2 en 6-2.

Felix Auger-Aliassime klop Marcos Giron met 6-3 en 6-2.

Jannik Sinner klop Filip Krajinovic met 6-2 en 7-6.

Iga Swiatek klop Victoria Azarenka met 6-4 en 6-1.

Amanda Anisimova klop Danielle Collins met 6-2 en 6-2.

Daria Kasatinka klop Paula Badosa met 6-4 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.