Vonke kan tussen Verstappen, Hamilton spat

Lewis Hamilton en Max Verstappen in Imola. Foto: Miguel Medina/AFP.

Nadat Lewis Hamilton die openingswedren van die F1-seisoen in Bahrein gewen het, het Max Verstappen die bordjies die afgelope naweek in Italië verhang.

Die Red Bull-renjaer het eerste oor die wenstreep gejaag; ’n hele 22 sekondes voor Hamilton wat in die tweede plek klaargemaak het.

En volgens die voormalige renjaer Jolyon Palmer kan die vonke in komende wedrenne behoorlik tussen die twee spat.

“Die afgelope naweek se wedren het dubbel en dwars vir ons gewys wie vanjaar sake om die kampioenskapstitel gaan uitspook. Wanneer ’n mens in kompetisie met jou grootste mededinger is, gaan jy ongetwyfeld meer risiko’s neem,” het Palmer gesê.

“Ek dink Lewis weet dat hy in die grootste titelgeveg van sy loopbaan is en hy moes nog nooit vantevore ’n aanslag van iemand so talentvol soos Max afweer nie.”

Volgens Palmer sorg kompetisie vir ’n bietjie meer aggressie agter die stuur en hy voorspel selfs ’n moontlike botsing tussen die twee – die twee motors se bande het juis die afgelope naweek so aan mekaar gevat-vat.

Hamilton, die verdedigende wêreldkampioen, het vroeër nie doekies omgedraai toe hy oor Verstappen se aanslag gepraat het nie.

“Ek word jaarliks gepols oor wanneer ek nou by die toppunt van my vermoë is. Ek dink ek het dit nou min of meer bereik, terwyl Max ook uitstekend bestuur,” het Hamilton gesê.

Volgens Hamilton is vanjaar die taaiste begin tot enige seisoen in sy loopbaan, terwyl die onvoorspelbaarheid van F1 tot die drama bydra.

“Ek dink Red Bull vertoon tans ongelooflik sterk en ons sukkel om in die kwalifiserende rondes by hulle te bly. ’n Mens weet egter nooit hoe hulle in ander plekke gaan vaar nie; dalk vertoon hul motor selfs beter in ander wedrenne. Ek is egter oorgehaal vir enige uitdaging.”

Vroeër het Nelson Piquet, die voormalige F1-wêreldkampioen, in ’n onderhoud gesê Verstappen sal vir Hamilton ore aansit as hulle al twee agter die stuur van ’n Mercedes sou inskuif.

“As Max vir Mercedes gejaag het, is ek daarvan oortuig dat hy vir Lewis ’n ding of twee sou wys,” het Piquet vir Motorsport.com gesê.

“Max is baie meer aggressief. Natuurlik maak hy dan meer foute, maar ek glo dat hy beter as Lewis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dubbelloop ·

Goed om dit wat hierbo geplaas is te lees. Max Verstappen is die “Mark Marques, moto gp” van F1.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.