Vreugdevure brand hoog vir die Scott-‘familie’

Andri Frischknecht van Scott-SRAM Young Guns (tweede van links) vier sy oorwinning in die vierde skof saam met sy spanmaat Michiel Van der Heijden. Nino Schurter & Matthias Stirnemann van SCOTT-SRAM MTB was tweede in die skof. (Foto Shaun Roy Cape Epic/ SPORTZPICS)

Andri Frischknecht van Scott-SRAM Young Guns (tweede van links) vier sy oorwinning in die vierde skof saam met sy spanmaat Michiel Van der Heijden. Nino Schurter & Matthias Stirnemann van SCOTT-SRAM MTB was tweede in die skof. (Foto Shaun Roy Cape Epic/ SPORTZPICS)

Die vierde skof van die Absa Cape Epic is heeltemal oorheers deur die jaers van die SCOTT-SRAM-spanne.

Die SCOTT-SRAM Young Guns se Andri Frischknecht (Switserland) en Michiel van der Heijden (Nederland) het Donderdag die skof oor 112km van Elandskloof (Greyton) tot Oak Valley (Elgin) in 4 uur en 10 minute gewen.

Die ander SCOTT-SRAM-span van Nino Schurter en Matthias Stirnemann (albei Switserland) was tweede in dieselfde tyd en is nou ook algeheel tweede.

Die draers van die geeltruie, Duitsland se Manuel Fumic en Brasilië se Henrique Avancini (Cannondale Factory Racing XC), was derde. Hul voorsprong oor Schurter-hulle is nou net 01:42. Christoph Sauser van Switserland en sy Tsjeggiese spanmaat Jaroslav Kulhavy (Investec-Songo-Specialized) was vierde in die skof en is nou derde algeheel. Hulle is 02:15 agter.

“Dit is ‘n wonderlike dag vir ons. Om ʼn plek op te skuif in die algehele stand en ʼn skofsege vir die jongelinge maak dit ʼn spesiale dag vir die span,” het die huidige wêreld en Olimpiese kampioen, Schurter gesê.

Dit was sommer ʼn dubbele sege vir die Frischknecht-gesin toe Andri se pa die legendariese Thomas Frischknecht saam met die Olimpiese vrouekampioen Jenny Rissveds (Swede) die skof in die gemengde afdeling gewen het.

Daar is steeds geen keer aan Jennie Stenerhag en Esther Süss (Meerendal CBC) in die vroue-afdeling nie. Die Sweedse-Switserse kombinasie het die skof in 5:05:58 gewen. Hul algehele voorsprong oor Suid-Afrika se Robyn de Groot en Duitsland se Sabine Spitz (Ascendis Health) – wat vierde in die skof was na meganiese probleme – is 12 minute en 40 sekondes. Mariske Strauss van Suid-Afrika en Brit Annie Last (Hansgrohe Cadence OMX) was tweede in die skof en is steeds algeheel derde.

Die vyfde skof is in Oak Valley en omgewing. Dit staan bekend as die sogenaamde dag van pret danksy baie enkelspoor.

Die dag se wedrenne begin om 07:00 en die eerste jaers word na 84km om 10:25 by die eindpunt verwag.

Vir ‘n regstreekse uitsending van Vrydag se skof besoek die amptelike webtuiste www.cape-epic.com.

Artikel verskaf deur Absa Cape Epic

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.