Vroue-hokkiespan skitter teen sterk China

SA se hokkievroue by die Somerreeks in Kaapstad. Foto Twitter: SA Womens Hockey

SA se hokkievroue by die Somerreeks in Kaapstad. Foto Twitter: SA Womens Hockey

Suid-Afrika se vrouehokkiespan het Sondag een van hulle beste vertonings in jare gelewer toe hulle China by die Somerreeks-toernooi in Kaapstad 4-2 geklop het.

Die oorwinning oor China, wat agste op die wêreldranglys is, was ʼn groot verrassing en verligting nadat die Suid-Afrikaanse vroue Woensdag hulle tweede kragmeting teen Chile, 23ste op die wêreldranglys, 2-3 verloor het nadat hulle die vorige week 3-0 gewen het.

Suid-Afrika is 14de op die wêreldranglys.

Sondag het Lisa-Marie Deetlefs binne die eerste minuut ʼn doel teen China aangeteken.  Rustyd was die telling 1-1 en die gelyke stryd het deurgaans voortgeduur. Met die aanvang van die vierde kwart was die twee spanne gelyk met twee doele elk met Deetlefs wat weer die doelhok gevind het.

Met net agt minute van die wedstryd oor het Bernadette Coston ʼn doel geslaan en skielik het dit begin lyk of daar dalk ʼn verrassing aan die kom was. Die kaptein, Nicolene Terblanche, het haar span goed bymekaar gehou en die verdediging het onder groot druk China se aanslae weerstaan.

Candice Manuel het in die laaste minuut met nog ʼn doel vir Suid-Afrika geslaag wat die telling 4-2 gemaak het. Drie van Suid-Afrika se doele is van strafhoeke af aangeteken.

Die feit dat die span in die Somerreeks meer geleentheid gehad het om saam te oefen het vrugte afgewerp. In die vorige twee wedstryde teen China het Suid-Afrika 0-3 en 2-5 verloor.

♦  Die SA manshokkiespan het hulle derde wedstryd teen Nederland 1-5 verloor. Daniel Bell het  vir Suid-Afrika ‘n doel vanaf ‘n strafhoek teen die wêreld se derde gekeurde span ingeslaan.

Ook die 15de gekeurde manspan het met die drie wedstryde tot dusver in die Somerreeks met die beter samespel en ondervinding wat hulle opgedoen het, stelselmatig beter teen die Nederlanders vertoon nadat hulle 2-6 en 1-7 teen die besoekers verloor het.

Hulle het Sondag veral in die eerste halfuur hulle man deeglik gestaan voordat die Oranjespan se groter ervaring en vaardigheid te veel vir hulle was in ʼn wedstryd waar Suid-Afrika talle geleenthede geskep het maar die afronding en akkuraatheid ontbreek het.

Jonty Robinson het Sondag in sy 100ste wedstryd vir Suid-Afrika gespeel.

♦  Maandag speel die mans en die vroue teen België.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.