VSA, Franse Ope gaan voort, maar Federer-loos

Roger Federer. (AP Photo)

Wêreldtennis se beheerliggaam het ’n nuwe kalender uitgereik en dit is amptelik: Die Franse Ope by Roland Garros sal op 27 September begin.

Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is verskeie toernooie noodgedwonge uitgestel, terwyl die glansryke Wimbledon-toernooi heeltemal vir 2020 gekanselleer is.

Maar die New Yorkse goewerneur, Andrew Cuomo, het vroeër die groen lig vir die Amerikaanse Ope gegee om op 31 Augustus voort te gaan, terwyl die Franse Ope nou ’n paar dae ná die afloop van dié toernooi sal afslaan.

“In hierdie moeilike omstandighede is ons maar net te deeglik bewus van die ongelooflike voorreg om Roland Garros wel aan te bied,” het die Franse tennispresident, Bernard Giudicelli, gesê.

“Die verantwoordelike besluit wat ons op 17 Maart geneem het om die Franse Ope na die herfsmaande uit te stel, beteken dat die 2020-kleitennisseisoen beredder kan word. Dit is natuurlik as die Covid-19-situasie nie versleg nie,” het hy gemaan.

Hoewel die besluit ’n welkome aankondiging vir tennisliefhebbers oor die hele wêreld is, sal hulle na die aksie sonder die talent van Roger Federer moet uitsien.

Die Switserse tennislegende het verlede week op sosiale media aangekondig dat hy nie by verdere toernooie vanjaar betrokke sal wees nie. Hy het vroeër vanjaar ’n knie-operasie ondergaan en hy voel dat hy nog nie ten volle herstel het nie.

“’n Paar weke gelede het ek ietwat van ’n terugslag in my rehabilitasieproses beleef. Nou – net soos wat ek in die aanloop tot die 2017-seisoen gedoen het – wil ek voldoende herstel om my bes te lewer op die hoogste vlak,” het hy op Twitter geskryf.

“Ek sal my ondersteuners en die toernooie baie mis, maar ek sien ongelooflik uit daarna om almal weer aan die begin van die 2021-seisoen te sien.”

Die 38-jarige Federer, wat die rekord hou vir die meeste Grand Slam-titels, het onlangs onder ’n voormalige wêreldnommereen se kritiek deurgeloop.

Die Australiese Ope-finalis van 1998, Marcelo Rios, het in ’n onderhoud gesê dat dit vervelig is om Federer se wedstryde dop te hou.

“Deesdae is dit nie vir my baie vermaaklik om tennis te kyk nie. Baie mense meen dat dit vervelig is om spelers soos Andy Murray en Roger Federer se kragmetings te volg, tog speel hulle goeie tennis,” het Rios gesê.

“Uit persoonlike ervaring dink ek dit is belangriker om die beste speler ter wêreld te wees, as om ’n Grand Slam te wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae