Vurige Sainz laat die vonke spat

Ferrari se Carlos Sainz in aksie in Bahrein. (Foto: Andrej Isakovic/AFP)

Die vonke het die afgelope naweek letterlik in Bahrein gespat soos wat Ferrari-spanmaats Charles Leclerc en Carlos Sainz om plekke op die renbaan baklei het.

Die vurige tweestryd het vir lekker adrenaliengelaaide vermaak gesorg en dit was uiteindelik Sainz – die man wat volgende jaar vir Lewis Hamilton moet plek maak – wat vóór Leclerc oor die eindstreep gejaag het.

Met meer as 14 sekondes, om die waarheid te sê.

Frederic Vasseur het intussen sy waardering vir Sainz se bestuursvernuf uitgespreek.

“Ek was oortuig dat hy op só ʼn manier sou reageer. Dit was die hoofrede waarom ons besluit het om die Hamilton-aankondiging vroeg te doen sodat almal op die seisoen kan konsentreer,” het die Ferrari-spanbaas gesê.

“Carlos het dinge baie professioneel hanteer toe hy gesê het dat hy op sy heel beste van die eerste wedren tot die heel laaste een sal wees. Hy het nou ʼn sterk en stewige vertoning gelewer en ek is meer as tevrede met hom.”

Sainz het self in aanloop tot die seisoen beloof dat hy allesbehalwe kanonvoer sal wees.

“Wanneer ek my helm in Bahrein opsit, gaan ek myself tot die uiterste druk met die doel om die kampioenskap te probeer wen. Ek is bewus van my waarde as ’n renjaer en ek is kalm wanneer ek na die toekoms kyk. Goeie dinge sal beslis oor my pad kom, maar vir eers wil ek op alle suiers vir Ferrari vuur,” het die 29-jarige Spanjaard gesê.

Ondanks die vonkespattweestryd tussen die twee Ferrari-renjaers het Red Bull maar weer die septer geswaai.

Max Verstappen en Sergio Perez het onderskeidelik eerste en tweede in Bahrein geëindig en Vasseur meen dat daar nog harde werk op Ferrari wag.

“Ons het weer met te veel dinge gesukkel. Ons moet onder meer Charles se remwerkprobleme oplos en daar was ook klein jakkalsies wat in die kwalifiserende rondes gepla het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Daar is miljoene kykers wat saam my stem (social media) dat dit net nog ‘n verveelige seisoen gaan wees met “you know who” wat elke wedren maar net eenvoudig weer gaan domineer! Nee wat, dan kyk ek maar liewer Noot vir Noot, dit is meer opwinder as die gemors

daarsdit ·

Duck, ons het vir 6 jaar Noot vir Noot gekyk toe Mercedes gedomineer het. Geniet dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.