Vurige Tsitsipas wil onder bestes tel

Stefanos Tsitsipas vier sy oorwinning in Monte Carlo. Foto: Valery Hache/AFP.

Stefanos Tsitsipas het die afgelope naweek sy Monte Carlo-meesterstitel suksesvol verdedig toe hy vir Alejandro Davidovich Fokina in die eindstryd met 6-3 en 7-6 geklop het.

Nou droom die 23-jarige Griek groot: Hy wil teen die einde van die seisoen onder die twee voorste spelers ter wêreld tel.

Soos wat sake nou staan is hy vyfde op die ATP-ranglys, maar die wyse waarop hy gereeld in Monaco moes terugveg, gee hom beslis rangslyshoop.

Tsitsipas moes veral in die kwarteindstryd teen Diego Schwartzman diep delf om ’n agterstand van 4-0 in die beslissende stel uit te wis, terwyl hy ook in die eindstryd gewys het dat hy deesdae oor senuwees van staal beskik.

“Pragtennis en goeie wenhoue het naderhand nie meer vir my soveel as harde werk saak gemaak nie. Ek moes vir elke liewe punt baklei en dit laat die oorwinning ongetwyfeld soeter smaak,” het hy ná Sondag se wedstryd gesê.

“As ek my geleenthede op elke baantipe benut, kan ek dalk selfs teen die einde van die seisoen onder die voorste twee spelers ter wêreld tel.”

Volgens die jongste ATP-ranglys swaai Novak Djokovic steeds die septer, maar hy het reeds vroeg in Monte Carlo teen die einste Fokina vasgeval.

Grand Slam-titels is beslis in Tsitsipas se visier en hy het juis verlede jaar in die eindstryd van die Franse Ope skittertennis teen die Serwiese ster gespeel.

Hoewel hy die kragmeting met 6-7, 2-6, 6-3, 6-2 en 6-4 verloor het, het hy gewys dat hy met die beste spelers kan saamgesels.

“Ek speel tans goeie tennis, maar ek glo dat ek die beste op kleibane aanpas. My hoofdoel is om aan almal te bewys dat ek dit verdien om een van die voorste spelers ter wêreld te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.