Vuur in die water – Midmar wéér ʼn sukses

Die Midmarmyl-oopwaterswembyeenkoms het hierdie naweek vir die 50ste keer plaasgevind. Foto: Twitter.

Oudergewoonte is die Midmarmyl  ʼn treffer met Connor Buck en Sharon van Rouwendal wat die elite-afdelings van dié gewilde oopwaterswembyeenkoms naby Pietermaritzburg gewen het.

Buck het die afstand in 17:39 min afgeblits, terwyl Van Rouwendal die vinnigste vrou met haar tyd van 18:40 min was.

Mike Pengelly het egter vir een van die hoogtepunte van die byeenkoms gesorg toe hy sy 50ste Midmarmyl-uitdaging suksesvol voltooi het.

Die 76-jarige swemmer het vir die eerste keer in 1974 by die wegspringpunt aangetree en hoewel die wêreld sedertdien taamlik verander het, is die kameraadskap onder die swemmers nog dieselfde.

Pengelly het juis sy jongste swemavontuur saam met ʼn groep vriende aangepak wat ook in 1974 deel van die aksie was.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring om weer saam met almal te swem. Oor die afgelope 50 jaar het die Midmar ʼn topbyeenkoms geword,” het hy gesê.

Mark Fish, die voormalige Bafana Bafana-speler, het onder die bekendes getel en volgens die amptelike uitslae het hy in ʼn tyd van net meer as 35 minute klaargemak.

“Die byeenkoms het ʼn spesiale plekkie in my hart en elke liewe swemsessie was ʼn unieke ervaring gewees. Die organiseerwerk is uitstekend, terwyl die deelnemers almal gemotiveerd en vriendelik is,” het die sokkerster in die aanloop tot die byeenkoms gesê.

Dan het die oud-Springbokvleuel, Stefan Terblanche, sy eerste Midmarmyl in ʼn tyd van 57 minute voltooi.

  • Uitslae:

Elite mans:

  1. Connor Buck: 17:39 min
  2. Henré Louw: 18:34 min
  3. Brendan Visser: 18:50 min

Elite vroue:

  1. Sharon van Rouwendal: 18:40 min
  2. Ashley Twitchel: 18:44 min
  3. Stephanie Houtman: 19:29

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.